fbpx
Len Muller se nuwe album is OORGENOEG

Len Muller se nuwe album is OORGENOEG

Len Muller Oorgenoeg Omslag

Oorsig

  • Volgens Len, bied OORGENOEG ’n meer moderne klank as waaraan luisteraars gewoond is, sonder om afbreek te doen aan die rou eerlikheid waarvoor hy bekendheid verwerf het.
  • OORGENOEG is ’n dertiensnit-album wat die seisoen waarin die sanger homself tans bevind verteenwoordig en geïnspireer is deur sy huwelik, geloof, familie, vriende en die see.
  • Saam met die album, het hy ook pas ’n nuwe enkelsnit utgereik met die naam HARTKLOP.
  • Laai dit hier af: https://ditto.fm/lm_oorgenoeg

Len Muller se nuwe album is OORGENOEG. “Hierdie album is my getuienis van soveel hemelse genade en guns wat ek die afgelope tyd kon beleef, ten spyte van al die uitdagings,” sê die talentvolle musikant en liedjieskrywer, Len Muller, oor sy derde ateljee-album waarvoor bewonderaars al so lank wag.

OORGENOEG is ’n dertiensnit-album wat die seisoen waarin die sanger homself tans bevind verteenwoordig en geïnspireer is deur sy huwelik, geloof, familie, vriende en die see. Dit het drie jaar gevat om op te neem en kan beskryf word as ’n mengsel van akoestiese Folk en moderne elektroniese klanke, wat dit ’n interessante popgevoel gee.

Saam met die album, het hy ook pas ’n nuwe enkelsnit utgereik met die naam HARTKLOP. Die liedjie, wat spog met ’n moderne popklank, gaan oor hoe die donker tye in jou lewe help om jou geloof te slyp. “Vir my gaan dit oor Johannes 5: 19. God se hartklop is my beskerming, solank ek daaraan vashou,” vertel Len wat dit beskou as sy beste werk nóg is. “Dis moeilike tye wat ’n mens weer op jou knieë bring waar jy rus kan vind op die Skepper se borskas. Die hele album praat maar oor intimiteit wat ek beleef in my verhouding met Hom. HARTKLOP is deel van my getuienis dat ek nie sonder die Hemelse Vader sal kan oorleef nie.”

Volgens die sanger behoort hierdie snit baie gewild te wees, omdat dit anders is as sy gewone styl. “Dis nie net van Gideon Botes se beste werk as vervaardiger nie, maar ook ’n baie nuwe en opbouende klank in die Afrikaanse musiekbedryf. Ek hou van ’n uitdaging en ek dink dit het gewerk want ek kan dit nie ophou luister nie. Daar is net iets aan die lied wat in mense se kop vassit.”

Die titelsnit, wat in 2019 vrygestel is, is baie goed ontvang en kan steeds oor die radio gehoor word. Dit is ’n treffende Afrikaans-akoestiese verwerking wat sy vaardighede as liedjieskrywer en sanger behoorlik ten toonstel en is ook die eerste liedjie waarop hy saam met sy sussie, Miemie Blaauw, sing.

Heildronk, wat kort daarna gevolg het, was ewe gewild onder oud en jonk. Nie net het dié snit, wat gaan oor goeie tye en samesyn, bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies gekuier nie, maar die musiekvideo is ook reeds deur ’n paar duisend mense op YouTube gekyk. 

Sy derde enkelsnit, Toevlug, wat hy saam met Stella (Christelle Combrink) geskryf het, is ’n inspirerende nommertjie wat luisteraars hoopvol maak oor die toekoms en tans steeds op die trefferparades van verskeie radiostasies landswyd pryk. Die musiekvideo is tydens grendeltyd verfilm en vrygestel en sluit skote in van Len in sy tuis-ateljee, Stella op haar plaas en ander natuurtonele in en om die Kaap.

Buiten vir die enkelsnitte wat reeds met luisteraars gedeel is, bevat die album ook drie ou gehoor-gunstelinge as bonussnitte, ’n nuwe verwerking van sy treffer – Winter – waarop Joshua na die Reën klavierspeel en verskeie nuwe oorspronklike liedjies wat hy met die hulp van musiekvriende soos Jattie de Beer, Stella en Faraway George geskryf het.

As jy hom uitvra oor sy gunstelinge, verklap hy dat daar baie is om uit te kies en dat hy regtig trots is op elke snit op die album: “Ek hou baie van hoe ‘Klei’ uitgekom het, want die lirieke en melodie kommunikeer die emosie van die lied so mooi.”

Sedert Len sewe jaar gelede met sy solo-loopbaan begin het, was daar voorwaar baie hoogtepunte op sy pad. Hy het nie net die geleentheid gekry om saam met groot name soos Stef Bos te werk nie, maar ook om twee suksesvolle albums en sy eie kortspeelplaat – met akoestiese verwerkings van sy bekendste liedjies – uit te reik.

Verder was by ook bevoorreg genoeg om die verhoog met groot name soos Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Musiek Soos Grond, Francois van Coke, Straatligkinders, Jan Blohm, Bok van Blerk, Chris Chameleon, Jak de Priester, Andriëtte Norman en Dan Patlansky te deel en homself as liedjieskrywer te vestig.

Sy treffer, Vrede, is gebruik as die temalied vir die sterbelaaide (Bobby van Jaarsveld, Lea Vivier, Sandra Prinsloo, Crystal-Donna Roberts, Reynardt Slabbert en Solomon Cupido) kykNET-sitkom, Mense Mense, wat in Maart 2018 op die kassie begin wys het. Die liedjie is in dieselfde jaar benoem vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning vir Liedjie van die Jaar.

Die veelsydige blondekop ster het einde 2019 na die Kaap verhuis en voel bevoorreg om elke dag op sy branderplank af te skop. Hy beplan om in 2021 te fokus op sy nuwe agentskap wat ander kunstenaars bestuur, soos Juan Boucher en Danie du Toit (Reënwolf) en om optredes te doen om sy nuwe musiek met aanhangers te deel. Hy is ook besig om liedjies vir Caroline Grace en Kurt Darren te skryf en is lid van die musiekbeweging, Musiek Soos Grond, saam met Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Leon Gropp, Lizandra Winter en Liani Reynolds, wat in 2019 gestig is en steeds per geleentheid saam optree.

Volgens Len, bied OORGENOEG ’n meer moderne klank as waaraan luisteraars gewoond is, sonder om afbreek te doen aan die rou eerlikheid waarvoor hy bekendheid verwerf het. “Jattie de Beer en Gideon Botes doen, as vervaardigers, regtig van hulle beste werk op hierdie album en dis ’n voorreg om my musiek deur hulle te laat verwerk,” sluit hy af.

Die album is beskikbaar op alle digitale platforms. 

Laai dit hier af: https://ditto.fm/lm_oorgenoeg

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Twitter, Instagram

Webblad: www.lenmuller.co.za

YouTube: www.youtube.com/lenniemuller

SoundCloud: www.soundcloud.com/lenmuller

BESPREKINGS

E-pos: [email protected]  / [email protected]

LEES MEER

Len Muller ft Stella, ‘n TOEVLUG vir almal!

‘n HEILDRONK op Len Muller se nuwe musiekvideo!

Len Muller vier familie en samesyn met nuwe enkelsnit!

Nuwe enkelsnit, NUWE HORISON vir Len Muller

Len Muller en Stella akoesties

Len Muller en Stella eersdaags in Pretoria te sien vir eksklusiewe optrede!

Vir Len Muller is musiek “Oorgenoeg”

Len Muller vier sewe suksesvolle jare in die musiekbedryf met ‘n nuwe kortspeelplaat (EP)

Len Muller nuutste enkelsnit is rou, eerlik en opreg!