LIGHT OF MY LIFE is ’n portret van ’n pa en sy dogter en wat hy sal doen om haar veilig te hou.
Dit is ’n pragtige dramatiese riller, wat kommentaar lewer op ouerliefde in gebroke tye en die onstabiliteit van die samelewing. Dit dra ook die aangrypende boodskap dat jy die een of ander tyd moet laat gaan.
Die film word plaaslik versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en open hierdie Vrydag, 18 Oktober 2019 by uitgesoekte teaters.
Regisseur, Casey Affleck, se LIGHT OF MY LIFE, is ’n narratiewe rolprent wat afspeel in tydperk nadat ’n plaag feitlik almal in die wêreld uitgewis het.
Dit is gebaseer op die Oscar-bekroonde akteur se eie draaiboek, wat drama vermeng met die storie van ’n kind en ouer se reis na genesing.
Die film speel af op ’n spookagtige, verlate landskap, waar ’n pa en dogter in ’n tent woon en in die woud kos moet soek om te oorleef.
Om hulle veilig te probeer hou, vermy die liefdevolle pa (Affleck) kontak met ander mense. Hy leer sy 11-jarige dogter, wat op een of ander manier immuun is teen die ‘vroulike plaag’, oor etiek, geskiedenis, moraliteit en hoe om uit die natuur te leef.
’n Toevallige ontmoeting bedreig dié voorsorgmaatreëls wat hy opgestel het. Die toevlug wat hy geskep het word in gevaar geplaas. In ’n wêreld wat nou net deur mans bevolk is, probeer hy desperaat om sy dogter Rag (nuweling Anna Pniowsky) te beskerm, terwyl hy terselfdertyd probeer om die jong vrou wat sy word, te eer en te bemagtig.
Hy word ook deur middel van terugflitse daaraan herinner hoe versot haar ma (Elisabeth Moss) op haar was.
Ter wille van haar veiligheid, sny hy haar hare af en trek vir haar mansklere aan. Verder vermy hulle dorpe en stede sover moontlik.
Die verhouding tussen pa en dogter is die hartklop van LIGHT OF MY LIFE. Die besonderse band tussen Affleck en Pniowsky word veral weerspieël deur die tonele wanneer hulle alleen is en in die aand in hulle oranje tent gesels.
Die binnekant van die tent, wat verlig word met klein lampies, beklemtoon die intimiteit en verhouding wat hulle het. Daar is opregte toegeneentheid en empatie vir mekaar, en ’n gedeelde liefde vir verhale oor die wêreld soos dit was en soos wat hulle dit graag wil hê.
Net soos wat die pa dit bykans onmoontlik vind om die wêreld aan sy dogter te verklaar, kan die fliek ook nie heeltemal alles aan die kyker verduidelik nie.
Namate die mensdom besig is om in duie te stort, groei die skaduwee van angs in die werklike lewe. Die rolprent werk die ergste vrese van mense, veral ouers, oral in.
Affleck verduidelik die betekenis agter die fliek as volg: “Dit is ’n baie persoonlike film vir my. Ek het hierdie verhaal ’n dekade gelede begin skryf. Soos wat my kinders ouer geword het, het my ervaring van ouerwees ook verander. Die storie wat ek vertel het, het verander. Na ’n egskeiding het die verhaal sy finale vorm aangeneem. Buiten vir al die wetenskapfiksie, is hierdie ’n storie van ’n enkelouer wat treur oor die verlies van ’n kernfamilie.”
LYS VAN TEATERS:
STER KINEKOR
Bedford Square
Rosebank Nouveau
Gateway
Brooklyn Nouveau
Tygervalley
V&A Nouveau
NU METRO
Hyde Park
Parkview
V&A Waterfront
ONAFHANKLIKE TEATERS
Labia Orange St.
Movies@Monte
SOSIALE MEDIA
Vir meer inligting oor LIGHT OF MY LIFE, insluitend die amptelike lokprent, hou ons Facebookblad dop.
Gebruik die hutsmerk #LightOfMyLifeFilm_SA om oor die fliek te gesels.
INTERNASIONALE SKAKEL