fbpx
MAANGENADE – KATE ROK se debuut enkelsnit!

MAANGENADE – KATE ROK se debuut enkelsnit!

Kate Rok lyk soos ’n donkerkop superster… met ’n Voortrekkerkappie. Maar sy is simbolies van die sterk vroue wat sy bewonder, asook haar onwrikbare trots op haar kultuur en herkoms. Haar musiek is net so uniek en emosievol soos die vrou wat dit skep en sy bewys dit met haar eerste enkelsnit, MAANGENADE.

Hierdie veelsydige musikant en liedjieskrywer is in Bethlehem gebore is en woon in Clarens. Sy het nie nodig om ’n plek in die plaaslike musiekbedryf te kom verdien nie. Sy het eenvoudig haar plek vol selfvertroue kom inneem, Voortrekkerkappie en al. MAANGENADE is op alle digitale platforms op haar verjaarsdag, 1 Julie 2021, spesiaal vir haar land en haar mense vrygestel.  Dié indrukwekkende enkeslnit is op 2 Julie 2021 aan alle radiostasies landswyd uitgereik.  

Hierdie liedjie gaan oor hoe nietig die mens is in vergelyking met die grootsheid van die skepping. Dit is nostalgies, maar ook modern en uniek en kombineer lekkerluister kampvuurmusiek met dramatiese elemente om ’n reënboog van klanke te skep, sonder reëls, net soos haar geliefde land.

“Hierdie lied het ek geskryf om te onthou dat ten spyte van die seer in ’n mens se lewe, daar ook soveel mooi en lekker dinge is. As jy daarop fokus, vind jy genesing in die vreugde van soveel ander goed – soos familie, vriende en die natuur,” verduidelik sy. Ek raak soms baie vies oor die situasie in my land. Maar dan besef ek dat die genade van my opvoeding en hoe ek redeneer, gesetel is in kennis wat ek onverdiend ontvang het. As jy besef hoe groot rol jou genade-aandeel in jou lewe speel, behoort jy meer empatie en liefde uit te deel, ongeag wie dit is.”

Kate Rok glo dat die publiek van die liedjie sal hou omdat dit positief, patrioties en romanties is en sy is ongelooflik trots op die eindproduk. “MAANGENADE gaan oor ’n universele tema. Dit laat jou trots voel op jou kultuur en jou eie bestaan, maar hopelik inspireer dit ander ook om nog liewer vir jouself, jou medemens, jou kultuur en land te wees.”

Dié treffende liedjie word ook gekombineer deur ’n hoendervleismooi musiekvideo wat op 6 Julie bekendgestel is en afspeel op haar pa se prentjiemooi plaas in Clarens. Adelheid Broom was die regisseur van dié besonderse video, met haar Great Dane – Barnaby – in die hoofrol en Dawid Raath agter die kamera.

“Ek en Barnaby gaan oral saam. Hy is my beste vriend en my beskermengel… ’n Legende in my gemeenskap. In die video wou ek die dinge wat ons die gelukkigste maak ten toon stel. Ons “roadtrips”, om tyd saam met familie en vriende te spandeer, om nuwe mense te ontmoet en die beste van elke oomblik te maak,” deel die sanger. “Dit is op my pa se plaas, Witrans, geskiet waar ek al soveel liedjies geskryf het, trane gestort het, en lesse oor die lewe geleer het. Al die mense en dinge in my lewe, wat ek as ’n voorreg beskou is deel van die video en ek wou ook nie te veel sing nie en eerder visuele kuns in storievorm weergee vir die kyker om te geniet.”

Kyk die video hier

Hierdie interessante en sterk jong vrou sing al vandat sy drie jaar oud is en skryf al van skooldae af haar eie musiek. Die land en sy probleme inspireer haar om liedjies te skryf en sy hoop om mense met haar musiek te motiveer om ’n verskil te maak in ander mense se lewens.

Kate Rok is besonders en vol verrassings en aanhangers kan elke maand iets nuuts uit haar pen te wagte te wees. “Ek hoop dat MAANGENADE luisteraars sal help om die genade in hulle eie lewens raak te sien en dankbaar te wees daarvoor,” sluit sy af.

Die liedjie is nou op alle digitale platforms beskikbaar. Kry dit hier: Apple Music, Spotify, YouTube Music

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook
Instagram
YouTube

Webbladwww.katerok.co.za