fbpx
One Voice slaan asems weg met nuwe musiekvideo.

One Voice slaan asems weg met nuwe musiekvideo.

One Voice is sedert die vrystelling van hulle debuutenkelsnit en -album die musiekgroep op almal se lippe. Nou is dié viermanskap terug in die kollig met ’n splinternuwe musiekvideo wat kykers van alle ouderdomme gaan beïndruk.

SECRET LOVE SONG is een van die meisies se gunstelingliedjies deur Little Mix en gehore het tot dusver hulle unieke verwerking van hierdie treffer baie goed ontvang.

“Die liedjie laat ons toe om elke groeplid se unieke karakter te wys, asook die harmonie wat ons kan vorm wanneer ons as een stem saamsing,” verklap hulle oor hoekom hulle besluit het om ’n video spesifieke van hierdie snit te maak.

“As groep is ons oorweldig deur hoe goed ons musiek vaar. Ons is opgewonde om ons heel eerste musiekvideo met almal te deel. Dit was vir ons ’n ongelooflike ervaring en ons sien uit na nog vele meer.”

Hierdie intieme, effense melancholiese liedjie gaan oor verbode liefde wat nie gekeer kan word nie. Om hierdie hele gedagte te versinnebeeld, is die video in en op die dak verfilm van ’n romantiese ou gebou by Kerkplein in Pretoria, met Shaun McCreanor van McCrea Media aan die stuur van sake.

“Die konsep van die video het gekom nadat ons die betekenis van die lirieke bestudeer het,” vertel Shaun. “Ons het probeer om dit só te verfilm dat die hartseer tema van die liedjie deurkom, maar dat die optredes deur die groep in die verskillende tonele opbouend is.”

Omdat die meisies almal van die Jakarandastad af kom, wou hulle graag hierdie eerste mylpaal vier in ’n omgewing wat vir hulle spesiaal is. Die verhaal van opregte liefde word verder beklemtoon deur die gebruik van ’n gebou wat dateer uit ’n tydperk toe daar nog aandag gegee is aan detail en daar geen massaproduksie was nie.

“In die video dra ons almal mooi rokke (met grimering deur Michelle Nolan van NaturallyMiBeauty), wat ’n toweragtige en romantiese gevoel weergee. Maar wanneer ons sing ‘shout it from the rooftops‘, wou ons wys dat ons wegbreek van die melancholiese ondertoon van die lied en nou vry en gelukkig is met onsself,” deel die meisies.

“Die hele verhaal speel in ’n leë gebou af, waar die storie soos ’n geheim vertel word. Die boodskap is dat jy vry kan wees en dat die liefde nie geheim gehou hoef te word nie. Jy moet dit aan die wêreld kan verkondig.”

One Voice, wat bestaan uit Kalinka Kilian, Carla Strauss, Karma Coetzer en Janke Bester, is bekend vir hulle opgewekte liefdestreffers. Hulle nuutste vrystelling volg kort op die hakke van hulle debuutenkelsnit, DROOMPLANEET, wat tans op radiostasies landswyd gehoor kan word.

Beide snitte vorm deel van hulle eerste, selfgetitelde album wat bestaan uit nege lekkerluisterliedjies wat almal digitaal beskikbaar is.

Die groep wat beskryf kan word as vier unieke stemme wat saamgesmelt het om ’n vars en unieke popklank te skep, het in 2018 ontstaan nadat die meisies besluit het om hulle musiektalent te kombineer om iets ongewoon met die plaaslike mark te deel.

Die groep is passievol oor musiek en straal ’n besonderse energie uit wanneer hulle op die verhoog is. “Ons naam verteenwoordig die feit dat al vier van ons iets uniek in ons stemme het, maar wanneer ons saamsing, kom alles mooi bymekaar om een stem weer te gee.

“En ons almal het een doel met ons musiek – om wêreldwyd bekendheid te verwerf en nog baie suksesvolle albums en radiotreffers uit te bring,” deel hulle.

Sedert hulle saam begin musiek maak het, het hulle al by verskeie skole, feeste, restaurante en funksies opgetree, waaronder Hoërskool Eldoraigne, LemonJack-teater, Centurion-teater, Oppi Stoep, NG Kerk Rooihuiskraal en Platteland.

Dié talentvolle musiekgroep se hoofdoel is om mense se harte te raak met hulle musiek. Hulle is tans hard besig met die opneem van nog musiekvideo’s en om nuwe liedjies te skryf vir hulle volgende album.

Met SECRET LOVE SONG bevestig One Voice nie net dat hulle musikante is om mee rekening te hou nie. Dié groep bewys ook dat dit moontlik is om deur middel van jou eie unieke verwerking hulde te bring aan ’n besonderse bestaande treffer.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram