Sharine Barnard se YOU’RE THE LIAR

Sharine Barnard se YOU’RE THE LIAR

Liefde en Emosies

Die liefde is seker een van die sterkste emosies wat ons as mense kan ervaar. Maar dit is ook die een wat gewoonlik wipplank ry met ons gevoelens. In ’n oogwink – met net ’n woord of aksie – kan ons van dolverlief na smoorkwaad verander.

Sharine Barnard: ‘n Meester van Liefde se Fases

Sanger en liedjieskrywer, Sharine Barnard, het vir haarself ’n nis in die gebied van liefde, en die gevoelens wat dit ontlok, uitgekerf. YOU’RE THE LIAR is die nuutste enkelsnit uit haar pen, en die voorlaaste snit op haar opkomende debuut-album, WORDS FAIL ME (PART 1), wat later vanjaar vrygestel gaan word. Die liedjies op haar album dek al die verskillende fases van iemand liefhê en verlief wees, met haar nuutste popliedjie wat die ‘kwaad wees-fase’ verteenwoordig.

Die Betekenis Agter YOU’RE THE LIAR

“Dié snit is effens tong in die kies, maar sinspeel op die feit dat ’n verskoning soms te laat kom, veral as daar ’n wit leuentjie ter sprake was,” vertel Barnard. “Maar waar die liefde betrokke is, kom ’n mens mos altyd op ’n manier oor die kwaad en dan vergewe jy gou.” Sy verduidelik dat die liedjie, vervaardig deur André de Jager van 2Tone Records, inskakel by MY READ-BETWEEN-THE-LINES, wat gaan oor die onvoorspelbaarheid van die liefde en hoe ’n mens onverwags daardeur betrap kan word.

Die Reis van Liefde

“Dit begin met kop-in-die-wolke en vorder dan in YOU’RE THE LIAR tot moenie-eers-vir-my-kyk-nie-kwaad,” verduidelik sy. “Albei liedjies verteenwoordig ’n aspek van verlief wees en vertel die storie wat daarmee gepaard gaan.” Die talentvolle musikant se vorige werk is goed deur radiostasies en luisteraars ontvang, en sy glo dat hulle ook aanklank sal vind by YOU’RE THE LIAR. “Buiten die lekker ritme, dink ek dat baie mense sal kan identifiseer met die lirieke, want wie was dan nog nie smoorkwaad vir ’n geliefde nie? So kwaad dat jy voel hulle nie eers in jou rigting moet kyk nie…”

Sharine Barnard: Meer as Net ‘n Musikant

Sharine, wat in Jan Kempdorp grootgeword het, was nog altyd mal oor musiek, maar het eers in grendeltyd besluit om haar musiekdroom uit te leef. Haar ander groot liefdes is diere en gesondheid – dié veelsydige vrou is die eienaar is van Bagamoya Wildlife Estate, wat ’n veilige hawe bied vir leeus, ape, en selfs ’n tier, asook Ozone Clinic, ’n osoonterapie-kliniek wat kliënte help met gesondheid, sportprestasie, sportsgenesing. Sy is self ’n kranige sportvrou en het al aan verskeie driekamp- en tweekamp-kampioenskappe deelgeneem.

Toekomsplanne

Buiten die bekendstelling van haar debuut-album later vanjaar, sien Sharine uit na die vrystelling van haar tweede Afrikaanse enkelsnit, JY IS MY BABES. Alhoewel YOU’RE THE LIAR ’n minder gewilde aspek van verlief wees aanspreek, word dit op ’n opgewekte wyse, met ’n boodskap waarmee mense ongetwyfeld sal kan identifiseer, oorgedra.

Kry Die Liedjie Nou

Die liedjie is nou aanlyn beskikbaar. Kry dit hier: https://lnk.to/YoureTheLiar

Volg Sharine Barnard op Sosiale Media