fbpx
Sunel se debuut-album ondersoek die “Symptome” van die liefde en die lewe!

Sunel se debuut-album ondersoek die “Symptome” van die liefde en die lewe!

Net ’n paar maande na die vrystelling van haar eerste Afrikaanse enkelsnit, Hart Op Jou Mou, is SUNEL terug met ’n debuut-album wat beloof om aanhangers en nuwe luisteraars se voete onder hulle uit te slaan.

SYMPTOME is ’n mengelmoes van elf pragtige snitte, in verskeie musiekgenres, wat daarop gemik is om aanklank te vind by ’n groter gehoor. Tien van die liedjies is kraakvars, oorspronklike snitte uit haar eie pen, waarvan party met die hulp van Hugo Ludik, Vaughan Gardiner en Darryl De Lange getoonset en vervaardig is. Haar treffende weergawe van Sonja Herholdt se Ek Verlang Na Jou vul die laaste plek op dié hoendervleismooi vrystelling.

SYMPTOME is ’n woord wat ek geskep het. Ek wou ’n titel vir die album hê waarmee beide Afrikaanse en Engelse luisteraars kan vereenselwig. Toe besluit ek om simptome en symptoms te meng en my eie weergawe te maak daarvan,” vertel SUNEL. “Ek wou ’n tema skep wat regdeur die album vloei en alles saambind. ‘SYMPTOME’ van liefde, seerkry, geluk, verliefwees, emosies en die lewe self en so ’n dieper betekenis na vore bring.”

Alhoewel die opnameproses nie lank geneem het nie, beplan en skryf die kunstenaar al vir jare aan die inhoud van hierdie spesiale projek en meen sy dat gebeurtenisse uit haar eie en ander mense se lewe die hoofinspirasie agter elke liriek was. “Eerlikheid is wat hierdie album anders maak. Elke liewe liriek wat ek geskryf het, kom uit my hart uit. Ek vertel my storie self, iemand anders doen dit nie vir my nie en ek dink dit is werklik wat ’n kunstenaar maak,” sê sy. “Ons almal gaan deur dieselfde dinge in die lewe en ek wil hê my musiek moet die boodskap stuur dat ons nooit werklik alleen is nie. Ons almal is net mens en voel en ondervind dieselfde dinge.”

Volgens die sangeres is dit moeilik om ’n gunstelingliedjie uit te sonder, omdat elkeen vir haar baie spesiaal is. “As ek wel moet kies, sal dit tussen ‘Myself In Jou Gevind’ en ‘Airplanes’ wees. ‘Myself In Jou Gevind’ is so ’n sterk liedjie en kom uit so ’n gelukkige plek uit. Dit is regtig ’n goedvoelliedjie en dit was die laaste een wat ek geskryf het vir die album. ‘Airplanes’ vertel ’n storie van die lewe en opofferinge wat ’n kunstenaar soms moet maak om hulle drome te volg. Dis ’n diep, mooi liedjie.”

Hart Op Jou Mou, haar vorige enkelsnit en tweede vrystelling vanaf die komende album, is baie goed ontvang. Dit is ’n liedjie waarby elke romantiese siel sal aanklank vind en gaan daaroor om iemand so lief te hê dat daardie persoon in alle aspekte jou hart op hulle mou dra.

“Die liedjie beteken geweldig baie vir my. Dit is sekerlik een van die diepstes wat ek nog ooit geskryf het en ek is baie trots daarop. Ek glo dat dit iets is waarby baie luisteraars sal aanklank vind. Om na musiek te luister, wat jou hartsnare sal raak en ’n mooi storie vertel, is geweldig belangrik. Daardie een liedjie wat jou hoendervleis gee, omdat jy kan vereenselwig met wat dit werklik beteken,” verklap sy oor hierdie diep, emosionele Afrikaanse snit.

Volgens die musikant het sy met opset die produksie van die enkelsnit eenvoudig gehou, sodat daar niks is wat die rou lirieke en boodskap van die lied sou oorskadu nie. Die eindresultaat praat direk met die hart en het reeds musiekliefhebbers en radiostasies gaande. Die musiekvideo is ook tans op kykNET te sien.  

Haar enkelsnit, Hart se Wens, wat ook van die nuwe album af kom, beklee tans die nommer een-posisie op SFM se Top 30-treffersparade.

Die kunstenaar het bekendheid verwerf vir haar treffende debuutenkelsnit, Fikcle Heart, wat vir nege weke nommer een was op SFM se Top 30 en vir dertien weke bo-aan die Nederlandse radiostasie, HOSA Radio, se trefferleer gekuier het. ’n Musiekvideo van dié liedjie is deur die SAMA- en Ghoema-bekroonde vervaardiger, Ryan Kruger van A Ryan Kruger Thing, vervaardig en is reeds deur meer as negeduisend mense op YouTube gekyk. “Dit was ’n groot voorreg om saam met Ryan te kon werk. Hy is een van die beste vervaardigers in die bedryf en dit was regtig vir my ongelooflik om my video saam met hom op te neem,” vertel sy trots.

Vanjaar vier hierdie vyf-en-twintigjarige Jazz-prinses van Mosselbaai, met haar tydlose stem, haar vierde jaar in die musiekbedryf. Sy het in ’n huis vol musiek grootgeword en het gedurende haar skooljare koor gesing, aan konserte deelgeneem en klavierles gehad. In die kort tydperk waarin sy al professioneel musiek maak, het sy reeds die verhoog met talle groot name gedeel, waaronder Chris Chameleon, Elvis Blue, Laurika Rauch, Corlea Botha, Coenie De Villiers, Steve Hofmeyr, Bobby en Karlien van Jaarsveld. Verder is dié blondekop ook ’n gereelde gesig by groot musiekfeeste, soos die Dias Fees (2016, 2017, 2018, 2019), Naartjie Fees, KKNK (2016, 2017, 2018, 2019), Bravo Fees en die Bushlapa Musiekfees. Sy het ook al twee vertonings saam met Pieter Koen en Willem Botha se kykNET Skole Toer gedoen.

Hierdie talentvolle musikant, wat deur alledaagse gebeure geïnspireer word om hartslirieke te skryf en hoendervleismooi musiek te skep, is ’n groot troeteldiereliefhebber wat daarvan droom om eendag ’n veilige hawe te stig vir mishandelde en weesdiere. As sy nie bevoorreg genoeg was om daar musiekdroom te kon volg nie, verklap die sangeres dat sy graag ’n professionele grimeerkunstenaar of sielkundige wou wees, omdat sy daarvan hou om na mense te luister en raad uit te deel. Sy het onlangs wel een van hierdie drome bewaarheid toe sy ’n grimeerkursus voltooi het deur The Institute Of Makeup Artistry en is baie trots op dié kwalifikasie.

Omdat sy ’n voorliefde het vir Jazz- en Swingmusiek, vind sy aanklank by kunstenaars soos Dean Martin, Ella Fitzgerald, Frank Sinatra en Katie Melua en word hulle uitgesonder as van haar grootste musiekinvloede. SUNEL droom ook daarvan om eendag saam met groot name soos Taylor Swift, Michael Bublé, Céline Dion en Ryan Tedder te werk. “Ryan Tedder is die hoofsanger van One Republic en het al treffers vir baie groot name in die bedryf geskryf. Hy is ook ’n meester as dit kom by musiekvervaardiging, so dit sal lekker wees om saam met iemand van sy kaliber musiek te maak,” meen sy.

Oor die afgelope paar jaar het sy besef dat dit nie maklik is om in die musiekbedryf te werk nie, maar dat jy in jouself moet glo en nie oorsensitief moet wees vir kritiek nie. Sy sien baie uit daarna om haar musiek met die res van die land te deel. SYMPTOME pas in geen boksie nie. Dis uniek, vars en ’n oorkruising van genres … dit is eerlik en ’n deel van my,” sluit sy af.

SUNEL se eerste album is ’n besonderse kombinasie van treffende lirieke en mooi musiek, wat haar strelende fluweelstem komplementeer en haar vaardighede as liedjieskrywer perfek ten toon stel. Dit is ’n knap stukkie werk wat beslis binnekort op elke musiekliefhebber se speellys gaan wees. 

https://open.spotify.com/album/1flmbsU527AwBpWiulrCZY?si=NWiWhMs5SPasVG9XmbUsQA

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/sunelmusic/
Instagram: @_miss_sunel
Twitter: @Miss_Sunel

BESPREKINGS

E-pos: [email protected]

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies
Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: [email protected]
Webblad: www.starburstmusic.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui