Demi Lee Moore se nuwe enkelsnit NET MYNE – Nou Beskikbaar

Demi Lee Moore se nuwe enkelsnit NET MYNE – Nou Beskikbaar

Na die ongekende sukses van haar enkelsnit HART BREEK in Desember 2023, is Demi Lee Moore terug met ‘n nuwe liedjie wat dieselfde geliefde countryklanke bevat. Die nuwe enkelsnit, getiteld NET MYNE, is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.

NET MYNE beskryf die tipe liefde wat enige uitdaging kan oorwin en sterker daaruit kom. “Twee mense wat mekaar oor-en-oor sal kies, al is hulle verskillend, maar tog die beste in mekaar uitbring,” sê Demi Lee.

Oor haar besluit om voort te bou op die sukses van HART BREEK se countryklank, verduidelik Demi Lee: “Ek is mal oor country en wil dit graag in my Afrikaanse musiek ook deurbring.”

Die liedjie is geskryf deur die gesoute liedjieskrywer Johan Oberholzer en vervaardig deur Demi Lee se man, Barthlo Visagie. “Ek hou van die liedjie omdat ek van die liefde hou, veral as jy weet jy het ‘net joune’ gevind. Hoe lekker is dit nie? Ek noem dit my langpad liefdesliedjie. Dit is perfek vir die lang pad, maar weerspieël ook die lang pad van liefde. As jy jou ‘net myne’ gekry het, kies jy hulle weer en weer, maak nie saak watter draaie die lewe met jou maak nie. Solank jy altyd vir mekaar veg, en dit is maklik as jy weet dit is net JOUNE,” sê Demi Lee.

Demi Lee hoop mense sal die liefde in die liedjie voel – en dat hulle, as hulle nie self sulke liefde het nie, sal verlang om dit te hê, want dit is darem lekker.

Die musiekvideo vir Net Myne is deur Eric Graham en Tehan Buys verfilm in ’n pragtige kothuis in Magoebaskloof. “Dit vertel basies die storie van twee mense wat op ’n romantiese naweek is, wat mekaar en die klein oomblikke vasvang deur ’n ou lens. Dit beklemtoon die mooi in die eenvoudige dinge van die lewe en die mooi in jou ander helfte,” verduidelik Demi Lee.

“Ek het ‘n duidelike idee gehad van wat ek wou hê en voel hulle het absoluut my ‘vision’ vasgevang,” sê sy.

Die koor van die liedjie sing: “Sal jy net myne wees, Ek vra jou mooi al het ons alreeds, Baklei, Gestry, Vermy, Weer opgemaak, So sal jy? Sal jy net myne wees?”

Demi Lee verduidelik dat dit nie noodwendig baklei soos mens sou dink nie, maar om te baklei vir mekaar. “Stry met die dinge wat die lewe jou kant toe gooi, vermy die dinge waarvoor jy bang is. As jy saam al hierdie dinge doen, kan jy net sterker en meer lief wees. Kies mekaar bo alles.”

Alhoewel Demi Lee al verskeie hoogtepunte in haar loopbaan gehad het, staan die Afrikaans is Groot-konsert kop-en-skouers bo die res uit. “Afrikaans is Groot elke jaar is natuurlik heel bo aan my lys – om betrokke te wees by so ‘n produksie is ’n groot voorreg,” sluit sy af.

Net Myne is nou beskikbaar op alle digitale stroomdienste soos Apple Music, Spotify, Deezer en YouTube Music.

Kry die liedjie hier: Net Myne.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram