fbpx
BLY JY HIER deur Ariose is kontemporêr treffend

BLY JY HIER deur Ariose is kontemporêr treffend

Ariose Bly Jy Hier

Oorsig

  • BLY JY HIER deur Ariose is kontemporêr treffend.
  • BLY JY HIER handel oor die skadu-tye wat in elke verhouding skuil wanneer ons soms vêr voel van ons geliefde af, al is hulle nader as wat ons interne wêreld ons toelaat om te ervaar in daardie oomblik.
  • Volgens die groep, het hulle dit baie geniet om saam aan BLY JY HIER te werk en is hulle baie opgewonde om dit saam met Starburst Promosies aan musiekliefhebbers bekend te stel.

Wanneer musikantvriende wat mekaar al lank ken besluit om saam musiek te maak, kan jy uitsien na ’n merkwaardige eindresultaat… en BLY JY HIER is die perfekte voorbeeld hiervan.

Die lied is ’n treffende kontemporêre duet deur die splinternuwe Afrikaanse groep, Ariose (betekenis – “’n melodie”)– wat bestaan uit Xander FilmalterRenier Henning en Heidi Henning – en is ’n gesprek tussen ’n paartjie wat aan die teenoorgestelde kante van dieselfde sirkel vasgevang is.

BLY JY HIER handel oor die skadu-tye wat in elke verhouding skuil wanneer ons soms vêr voel van ons geliefde af, al is hulle nader as wat ons interne wêreld ons toelaat om te ervaar in daardie oomblik,” verduidelik Xander wat ook die skrywer van die liedjie is. 

Ariose Bly Jy Hier

“Dit is nie bedoel om slegs as ’n hartseer tema ervaar te word nie, maar eerder dat die hoop van oorwinning in moeilike tye uitgebeeld word. Die melodie skep ’n ligte fondasie waarop die tussenspel van die twee karakters kan uitspeel en die verskillende emosies kom ook sterk deur in die lirieke.”

Ariose is ’n passieprojek, wat in Oktober 2020 gestig is om hoë gehalte Afrikaanse musiek te skep en ook die kunstenaars se bestaande musiekloopbane van hierdie inisiatief te skei. “Ariose se doel is om goeie Afrikaanse musiek te maak. Ons musiek word geskryf op ’n akoestiese kitaar en gedurende produksie sal ander elemente bygevoeg word soos elektriese kitaar of klavier. Maar die akoestiese kitaar bly die instrument waarom als gebou word,” sê Renier.

Die musiekvideo van die enkelsnit is deur Xander en Renier self vervaardig gedurende vlak drie van inperking. Die video is by Renier en Heidi se huis verfilm en wys basies verskillende skote van die groep wat die liedjie opvoer. Xander se ernstige optrede, is in skerp kontras met Heidi se prettige en energieke vertoning, wat die twee kante van die verhoudingsirkel verteenwoordig waaroor die liedjie handel.

“Grendeltyd het gemaak dat ons baie kreatief moes wees oor hoe ons die video benader. Ons moes dit by die huis skiet, omdat ons nie kon uitgaan nie en het dit een Saterdag by die huis opgeneem,” verklap die manne. “Aanvanklik wou ons die tema humoristies maak, maar die vertoningskote het so goed gewerk dat alles net in plek geval het. Ons is baie dankbaar vir die energie wat Heidi na die video gebring het, wat ons nie noodwendig gehad het nie.”

Xander en Renier, wat mekaar lank terug ontmoet het toe hulle saam getoer het, is al vir jare vriende en het al baie saamgewerk in Renier – wat ’n knap musiekvervaardiger en musikant is – se ateljee om Xander se musiek op te neem. Later het Heidi, nou Renier se vrou, bygekom en het hulle sommer gou agtergekom dat Xander en Heidi se stemme mekaar baie goed komplementeer.

“Xander en Heidi het op ’n stadium ’n weergawe van Bryan Adams se Star opgeneem en die reaksie was baie positief. Ons praat dus al vir baie jare oor die idee om iets saam te doen en vry te stel, maar ons was altyd te besig.

Aan die begin van 2020 het ons besluit om net in te spring en iets te doen. Xander het die vryheid gesoek om te kan werk aan ’n liedjie waar hy net hoef te sing en nie hoef te bekommer oor die instrumente nie, en ek is altyd opsoek na die volgende uitdaging in my musikale ontwikkeling,” vertel Renier. “Ek voel nog altyd dat hulle stemme perfek pas en sy het al baie agtergrondstemme vir van sy liedjies ook opgeneem. Ons het gedink dit sal goed wees om die twee stemme te kombineer en te hoor hoe dit klink. Ek moet sê; die resultaat is baie spesiaal.”

Volgens die groep, het hulle dit baie geniet om saam aan BLY JY HIER te werk en is hulle baie opgewonde om dit saam met Starburst Promosies aan musiekliefhebbers bekend te stel. “Ek dink omdat ons almal sulke goeie vriende is, het ons altyd musikaal baie pret saam en dit het net daarvandaan gevloei. Alles het regtig so maklik bymekaargekom omdat ons mekaar baie goed verstaan”, sê Heidi. “Ons vul almal mekaar op unieke maniere aan en ons leer baie met die opname van elke liedjie, of dit nou musikaal, geestelik of filosofies is.”

DIE MENSE AGTER DIE MUSIEK

Pieter Filmalter, beter bekend as Xander Filmalter, het in die Vaaldriehoek grootgeword en speel al in musiekgroepe vandat hy sewentien is. Aanvanklik het hy net lirieke geskryf op ander musiek se wysies, maar nadat hy ’n vriend sien kitaarspeel het by ’n skoolkonsert, het die musiekgogga hom finaal gebyt en het hy homself geleer speel op sy oupa se kitaar… net soos wat hy later vir ander musikante sou leer speel en homself ook sou leer sing.

Hy werk al vir meer as een-en-twintig-jaar in die musiekbedryf en is die voormalige liedjieskrywer en kitaarspeler van die Engelse rockgroep, AvenFall. Aanvanklik het hy net op Engelse musiek gefokus, totdat ’n vriend hom genader het om iets in Afrikaans te skryf en hy besluit het om dié mark te betree. In 2017 het hy ’n album, Hier Kom Dit Nou, uitgereik, wat talle suksesvolle enkelsnitte en musiekvideo’s (wat almal op kykNET NOU! te sien was) opgelewer het, waaronder As Jy DansBloed Is RooiHi Jy en die titelsnit, Hier Kom Dit Nou.

Wanneer jy hom vra wie in die Suid-Afrikaanse bedryf hom inspireer, hoor jy name soos Johan Vorster, Richard van der Westhuizen en Jo Black. Oorsese kunstenaars soos The Offspring, Green Day, U2, Lenny Kravitz, Goo Goo Dolls en Bryan Adams is vir hom ’n groot inspirasie en het almal ’n invloed gehad op sy eie styl. Hy wil ook nog graag eendag saam met plaaslike sangers soos Richard van der Westhuizen, Francois van Coke en Karen Zoid werk.

Xander beskryf homself as ’n introvert, wat stilte nodig het om sy battery te herlaai. Alhoewel hy heel gelukkig is met sy huidige rol as onderwyser, droom hy tog daarvan om vir groot kunstenaars en films liedjies te skryf, nog baie albums op te neem en diep spore te trap in die musiekbedryf. Hy het onlangs ses nuwe Engelse liedjies opgeneem en vrygestel en sien uit na wat die toekoms inhou.

Renier en Heidi Henning tree al sedert 2014 saam op as die gospelgroep, Kings Collective, en het sedertdien gewys dat hulle ’n gedugte span is op die verhoog en ook as egpaar en ouers.

Saam het hulle al verskeie vertonings gedoen by kerke en ander geestelike funksies, ’n Engelse album, Humbly We Come, en verskeie enkelsnitte (Hold Me In Your Arms, Fountains Of My HeartU Is Vir My en Kamerliedjie) en musiekvideo’s uitgereik wat baie goed ontvang is en steeds op die kassie gesien kan word.

Volgens die musiekpaar is Ariose beslis nie die einde van hulle gospelbediening nie en dat hulle op hierdie manier hulle sekulêre werk van hulle geestelike musiek wil skei. “Kings Collective bestaan nog en ons sal nooit ophou om gospelmusiek te maak nie. Dit is deel van wie ons is en ons het nog baie nuwe materiaal wat oppad is. Ons wou net ’n ander naam hê waaronder ons liedjies kan vrystel wat nie noodwendig geestelik van aard is nie,” sê Heidi.

Renier is al versot op musiek vandat hy kan onthou en is doenig met instrumente vandat hy twaalf was. Later het hy begin vervaardig en dit is wat hy steeds vandag, na ’n dekade in die musiekbedryf, vir ’n lewe doen. Dit is daarom ook nie vreemd dat hy die rol van kitaarspeler, komponis, vervaardiger en klankingenieur van die groep vervul nie. Hy lys kunstenaars soos Goo Goo Dolls, Keith Urban, Imagine Dragons en Tim McGraw, as van sy huidige gunstelinge. Die musikant glo dat musiek nie gaan oor toertjies en tierlantyntjies nie, maar oor hoeveel jy van jouself in ’n liedjie sit sodat dit opreg is.

Heidi sing reeds vandat sy ’n klein dogtertjie is en het nog altyd ’n natuurlike aanvoeling vir musiek en lirieke gehad. Sy was van jongs af lief vir skryf en het haarself leer kitaarspeel toe sy op hoërskool was. Alhoewel sy reeds op sestien saam met groepe begin optree het, het sy eers op twintig die Gospelmark betree, nadat sy tot bekering gekom het.

Sy is die vroulike stem en liedjieskrywer van Kings Collective en Ariose en put inspirasie uit lewenservaring, haar verhouding met God, mense en musiek. Wanneer sy nie op musiek of grafieseontwerp fokus nie, werskaf sy graag in die tuin en luister sy na ’n wye verskeidenheid musiek, wat wissel van geestelike liedjies en Country tot Folk en Rock. Sy glo dat musiek meer oor ’n kunstenaar verklap as wat ’n mens dink en dit is beslis waar oor haar, want sy stort hart en siel in elkeen van haar liedjies.  

Ariose beskou BLY JY HIER as die eerste van nog baie liedjies saam en is baie opgewonde om te sien hoe die luisteraars op hierdie enkelsnit gaan reageer. “Ons hoop dat die publiek die snit in die gees wat dit bedoel is sal kan ervaar. Dit gaan oor ’n universele tema, waarby ons glo almal sal aanklank vind,” sluit Xander af.

BLY JY HIER is beskikbaar op alle digitale platforms.  Laai dit hier af:

https://music.apple.com/us/album/bly-jy-hier-single/1536798109

https://distrokid.com/hyperfollow/ariose2/bly-jy-hier

SOSIALEMEDIASKAKEL

Facebook