fbpx
Bottomless Coffee Band – Bodemlose talent en hart

Bottomless Coffee Band – Bodemlose talent en hart

Dit gebeur nie gereeld dat albei partye in ’n huwelik die geleentheid kry om hul drome in die musiekbedryf na te streef nie. Nog minder om boonop suksesvol genoeg te wees met hul kuns om ’n voltydse lewe daarvan te maak nie.

Een van dié gelukkige paartjies wie se lewe getuig dat dit wel bereik kan word, ook in Suid-Afrika, is die Bottomless Coffee Band. Die energieke duo Lourens en Esté Rabé is bekend vir die vele musiekinstrumente wat hul bemeester en hul vermaaklike konserte.

Met elke optrede is dit duidelik dat hulle voortdurend hul talent bly ontwikkel. Hul kombineer hul optredes met hul unieke verskeidenheid van talente met liedjies oor die lewe, liefde, blues en soveel meer.

Esté sê: “Ons is baie lief vir instrumente; ons is gedurig op soek na interessante klanke om by te voeg.” Altesaam bespeel hulle twaalf instrumente en met die beskikbare tegnologie stel dit hulle in staat om met dieselfde klank as die van ’n volledige band te kan optree.

Dit was n droom van ons albei wat bewaarheid is … daar was n wonderlike vryheid daarin om dit wat die wêreld as ‘sukses en sekuriteit’ bestempel te verruil vir n lewe waar jy jou passie en droom kan volg. Ons het besef dat betekenisvolle lewens vir ons belangriker was as sekuriteit,” vertel Lourens opgewonde.

Soos enige mooi storie het hulle s’n lank lank gelede begin toe hulle as jong studente mekaar by die Universiteit van Stellenbosch ontmoet het. Na albei hul studies voltooi het, het hulle voltydse loopbane in die korporatiewe wêreld begin volg; Lourens as ’n beleggingsanalis in die batebestuurbedryf, terwyl Esté die hoof van ‘n teateronderneming was.

Sedert die suksesvolle vrystelling van hul debuutalbum ROOM WITH A VIEW, kon die paartjie albei hul korporatiewe loopbane verlaat om met geloof ’n voltydse loopbaan in musiek op te bou.

Esté voeg by: “Van die begin af was ons hoofdoel om ander deur musiek te inspireer. In n wêreld gevul met soveel gebrokenheid en sinneloosheid, wil ons musiek maak wat hoop bied, verandering kan inspireer, liefde sal versprei en mense kan verenig.”

ANTHELIA, die titel van hul tweede album, beteken “Die vermoë om engele te sien.” Die duo interpreteer dit vir hulself as: “Die vermoë om skoonheid in alles en almal rondom ons te sien,” wat weereens die perfekte opsomming is van waaroor Lourens en Esté Rabé en hul musiek gaan.

Bottomless Coffee Band het al nasionale toere na elke buitewyk van ons land geniet, maar hulle het ook internasionaal opgetree by die Edinburgh Fringe Festival in Skotland, asook in België, Nederland, Namibië en die Verenigde Koninkryk.

Behalwe dat hulle voltyds toer, glo Lourens en Esté ook daarin om hul musiek en vaardighede te gebruik om gemeenskappe en hul land op te hef. Dit het gelei tot hul betrokkenheid as ambassadeurs en beskermhere vir verskillende organisasies, onder meer MAD (Make a Difference Leading Foundation, Francois Pienaar) en CCFA (Community Conservation Fund Africa, Mantin Collection).

Lourens en Esté is ook die musikale regisseurs van Bands for Bricks wat vroeër vanjaar hul eerste suksesvolle konsert gehou het saam met ander onafhanklike kunstenaars. Weens die reusesukses van die eerste konsert, word Bands for Bricks 2 reeds beplan vir Februarie 2020.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook

Webtuiste: https://bottomlesscoffeeband.com/