fbpx
Cheralee, Elme Churr en Carma inspireer hierdie vrouemaand.

Cheralee, Elme Churr en Carma inspireer hierdie vrouemaand.

BLOM IN SY WESE is ʼn Christelike lied wat die gelowige vrou met ʼn blom vergelyk, en is ʼn  splinternuwe musiekuitreiking deur die drie blondekop-sangeresse Carma, Cheralee en Elmé Churr.

Dié drie liedjieskrywers elkeen in eie reg het kragte saamgesnoer om BLOM IN SY WESE saam te komponeer en op te neem.

BLOM IN SY WESE is ʼn opgewekte, kitaargedrewe, Southern rock-country-lied.

Die lirieke is geskoei op en geïnspireer deur ʼn gedig wat ChereLee gepen het wat ʼn gelowige vrou met ʼn blom vergelyk: Die blom word as metafoor gebruik omdat ʼn vrou op vele maniere kan vergelyk word met ʼn blom. ʼn Blom is ʼn pragtige verskynsel in natuur en so ook word vroue as die skoner geslag gesien – sag, fyn, vol kleur en mooi. ʼn Blom laat altyd ʼn geurige parfuum na as ʼn mens daaraan ruik en so ook dra vroue graag parfuum om lekker te ruik.

Sekere blomme is in staat om vrugte te dra en nuwe lewe te skep, so ook is ʼn vrou in staat om nuwe lewe te gee. ʼn Blom kan nie groei, beskerm en gevoed word sonder om aan ʼn boom of takke geheg te wees nie, so ook kan ʼn vrou nie groei en haar volle potensiaal bereik sonder om deur die boom van die lewe, oftewel Jesus, gevoed en beskerm te word nie.

ʼn Gelowige vrou staan sterk deur verskeie seisoene in haar lewe, omdat sy gegrond is in die Here se seën, genade en liefde. Hy dra haar op sy hande, versorg en beskerm haar, omdat sy in Hom glo. Om in Jesus Christus te glo, is haar lewe vreugdevol en vol kleur en sy kan sodoende tot haar volle potensiaal “blom”.

Vroue in Beweging: Die agenda van die FroueVonds vir die volgende twee jaar

Die drie onafhanklike kunstenaars wou graag saam ʼn projek aanpak waarby hulle die vrou kon vier. Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds (VroueFonds word met opset verkeerd gespel om aan te pas by hul leuse: want nie alles loop altyd reg nie) was terselfdertyd besig om die “Vroue In Beweging”-inisiatief te ontwikkel.

Omdat Carma, CheraLee en Elmé oor dieselfde visie as die Vroue in Beweging beskik en in dieselfde Christelike waardes en beginsels gegrond is, het hulle besluit om saam hande te vat om dié inisiatief bekend te stel en as ambassadeurs vir die fonds op te tree.

“Die boodskap wat oorgedra word, is om mense, veral vroue, te herinner om vas te staan in geloof om deur die struikelblokke van die lewe te kom,” sê die liedjieskrywers.

René Roux, adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand asook voorsitter van die Vroue in Beweging, het ʼn sterk konsep bewerkstellig deur ʼn inspirerende nuwe inisiatief genaamd Vroue in Beweging te skep as deel van die FroueVonds se agenda vir die volgende twee jaar.

“Die oomblik toe René haar visie en droom met ons deel was dit ʼn definitiewe ‘a-ha’ -oomblik. Ons kan soms net in verwondering staan oor die Here se tyd en goedheid. Dit is ongelooflik,” het die dames vertel.

BLOM IN SY WESE bring ʼn boodskap van hoop, genade en liefde, hernuwing en absolute transformasie in God.

Die musiekvideo is verfilm in Jaco Smit se ateljee in Midstream, Centurion, tydens die opnames. Hulle wou graag die positiewe energie tussen hulle vasvang terwyl elkeen se unieke persoonlikheid uitgebeeld word.

Die konsep beeld ook uit hoe vroue wat saam werk en ʼn taak met ʼn goeie gesindheid aanpak, net positiewe resultate kan lewer.

Die verfilming en vervaardiging van die musiekvideo is deur Leon Barnardt behartig.

MEER OOR DIE KUNSTENAARS

CheraLee

CheraLee is al langer as 20 jaar in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf doenig.

Haar debuut album “Plekkie Onder Die Son” wat in verlede jaar vrygetsel is, is vroeër vanjaar aangewys as die Beste “Southern Rock Album” en Beste Album deur ’n Vroulike Kunstenaar by die Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaars Toekenings Geleentheid.

Sy is tans besig om aan ’n 4 -snit Engelse mini album te werk saammet die bekroonde vervaardiger en “Grammy” lid Daniel Baron.

CheraLee is lief vir kuns in al sy vorms. Sy is ook ʼn sake-eienaar en gekwalifiseerde grafiese ontwerper en het ʼn B.A (Hons)-graad in Inligtingsontwerp aan die Universiteit van Pretoria verkry.

Elmé Churr

Elmé is 16 jaar in die musiekbedryf doenig en het in 2007 haar M Dip in musiekteater verwerf.

Sy is ook ʼn gekwalifiseerde Pilates instruktrise.

Die afgelope 16 jaar in die bedryf het haar geleer om altyd voorbereid te wees. Sy is binnekort in ʼn rol in ‘Binnelanders’ te sien.

Carma

Carma is sedert 2012 in die musiekbedryf doenig. Sy is ook deel van die Rug Teen Rug-platform vir onafhanklike kunstenaars, ‘n subdivisie van Ontbytsake.

Sy is ook besig met ʼn nuwe duet saam met Waldo Greeff.

Carma het ook in 2022 die temalied vir die program Sterstatus geskryf en uitgevoer.

Sy is ʼn gekwalifiseerde en ervare onderwyseres met ʼn B.Ed-graad in Senior en Verdere Opleiding en Onderrig met vakke Engels en Lewenswetenskappe.

Om die Vroue in Beweging se lied te luiste, klik hier:

Op Woensdag, 9 Aug word Vroue in Beweging ampetlik bekendgestel tydens ‘n funksie by die Atterbury-teater. Dié geleentheid vind tussen 10:00 en 12:00 plaas en gaan ‘n oggend vol bederf wees. Koop jou kaartjies hier:

https://afriforumteater.co.za/event-details?id=66f1967b-1941-49bd-91ea-2aec48acce37

SOSIALE MEDIA

Cheralee

Facebook, Instagram

Elme Churr

Facebook, Instagram

Carma

Facebook, Instagram