fbpx
Christi – RAIN

Christi – RAIN

Dit is normaal om jou emosies uit te blok in ’n poging om jouself te beskerm. Hoewel dit tydelike verligting kan bring vir die seer wat daarmee gepaard gaan, is dit selde ’n langtermyn-oplossing vir die lewe se uitdagings. In haar nuwe enkelsnit, RAIN, verklap Christi hoe dit is om desperaat te wees om te voel, wanneer jy emosioneel leeg is aan die binnekant.  

Die liedjie is deur die kunstenaar self geskryf gedurende ’n moeilike tyd in haar lewe. “Ek sukkel met depressie en op ’n stadium het ek heeltemal dood aan die binnekant gevoel. Ek was nie gelukkig, hartseer of enigiets tussen-in nie. Ek het niks gevoel nie. RAIN gaan daaroor om desperaat te wees om te voel in ’n poging om van die seer binne jou ontslae te raak.”

Net soos met haar debuut-enkelsnit, Fall Apart, is haar nuutste vrystelling ook deur persoonlike ervaring geïnspireer. “Die liedjie gee luisteraars insae in ’n slegte tyd in my lewe. Ek was op soek na hulp, maar ook hoopvol dat dinge beter sou gaan,” sê sy. “Dit het my laat besef dat hoewel ons emosies moeilik en oorweldigend kan wees, dit belangrik is om daardeur te werk en dit nie uit te blok nie. Deur die liedjie te skryf, kon ek ontsnap uit ’n donker plek in my lewe, en ek hoop dat dit ander mense ook kan help om dieselfde te doen.”

Ten spyte van die ernstige en sensitiewe aard van die lied, word die boodskap op ’n lighartige manier oorgedra. Omdat sy ’n sagte plekkie het vir 80’s-musiek, spog dié enkelsnit met ’n prettige popklank wat geïnspireer is deur haar gunsteling-era.

Christi glo dat die liedjie sal aanklank vind by oud en jonk, omdat emosies universeel is en almal soms pyn in hul lewens ervaar. “Geestesgesondheid lê my na aan die hard en hierdie snit kom van ’n baie weerlose plek, maar ek glo dat baie mense daarmee sal identifiseer. Wanneer ons seer in ons lewens ervaar, is ons geneig om geïsoleerd te voel. Ek wil hê luisteraars moet weet dat hulle nie alleen is nie en dat om hulself toe te laat om te voel, soms die enigste manier is om hulleself te bevry.”

’n Indrukwekkende musiekvideo vir dié treffer is nou ook op die kassie te sien.

Miley Cyrus se River was die inspirasie agter die projek en Christi en regisseur, Gerduan Kemp, het hard gewerk om lewe te blaas in haar idee. “Ek wou iets eenvoudig, maar prettig hê en Gerduan het my verwagtinge heeltemal oortref!”

Die video is by Sower Studios opgeneem en het die duo ’n skoon ruimte gegee om mee te werk. Hulle het met hoeke, beligting en beweging gespeel, wat beklemtoon is deur waterbeelde om ’n prettige en emosionele gevoel te skep. “My optrede in die video verteenwoordig die emosie agter die lirieke en die beligting en water het hierop gebou,” verduidelik die sanger. “Ons het regtig probeer om die essens van die snit en die emosie daaragter vas te vang.”

Christi het dit baie geniet om die video te maak. “Dit was heerlik om uiting te gee aan my musiek deur my liggaam en beweging te gebruik en ek is baie trots op die eindresultaat. Die video wys wie en regtig is en hoe ek voel. Ek dink dis wat dit so uniek maak.” 

Christi se eerste enkelsnit is verlede jaar uitgereik en baie goed ontvang. “Fall Apart het baie aandag getrek en dit was ’n voorreg om die storie agter die liedjie met mense te deel. Dit was ’n baie opwindende reis sover,” sê sy.

Die 23-jarige sanger en liedjieskrywer wou van kleins af musiek maak, ’n passie wat aangewakker is deur haar pa wat self ’n platejoggie is. Sy woon tans in Potchefstroom en spandeer al haar tyd aan haar musiekloopbaan.

Al is sy nog nuut in die bedryf, het sy reeds so baie geleer. “Ons is geneig om in die agtergrond te verdwyn, maar ons uniekheid laat ons uitstaan. Dit was so bevrydend om te verken wie ek as mens en kunstenaar is, en om die ondersteuning van wonderlike mense op my pad van selfontdekking te hê,” sê sy. “Werk is ook soveel beter as jy passievol daaroor is. Ek voel bevoorreg om al my tyd te spandeer aan dit waarvoor ek lief is.”

Hierdie opkomende kunstenaar se planne vir 2023 sluit ’n debuut-album later vanjaar, nuwe musiek en ’n reis na Israel en Frankryk in.

RAIN gaan beslis die sukses van haar vorige enkelsnit oortref. Die liedjie is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms.

Laai dit hier af: https://linktr.ee/christii_music?utm_source=linktree_admin_share 

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram, TikTok, Twitter