fbpx
Die Kaplyn-musiekblyspel binnekort op die planke

Die Kaplyn-musiekblyspel binnekort op die planke

Afrikaanse kultuur- en teaterliefhebbers kan uitsien na ’n splinternuwe musiekblyspel wat eersdaags by die AfriForum Teater in Pretoria sy buiging maak. 

Die Kaplyn-musiekblyspel is ’n aangrypende produksie wat met trots aangebied word deur AfriForum en die skeppers van 2022 se gewilde Die Gelofte-musiekblyspel, Inhoud Huis Musiek.

Die verhaal en konsep is deur Johan Vorster, wat self ook in die produksie te sien is, geskryf en volg op die gebeure wat tydens die Grensoorlog in die 1980’s plaasgevind het. Jannes Erasmus het die teks in samewerking met Vorster geskryf. Erasmus is ook vir die regie verantwoordelik. 

“My inspirasie om hierdie storie te skep, was die Verlore Seun in die Bybel. Die musiekblyspel vertel die verhaal van ’n seun wat terugdraai na sy pa se huis. Dit is ’n simbool van ’n nasie wat terugdraai na God,” deel Johan oor die idee agter dié projek.

Musiek en lirieke is deur Vorster en Jacomien de Wet behartig, terwyl Francois Lessing in samewerking met Vorster vir die orkestrasie en musiekregie verantwoordelik is. 

“Hierdie produksie gaan die Afrikaner-siel diep raak. Ek en Johan beoog om die musiek- en klankstandaard, wat ons in ‘Die Gelofte’ bereik het, te skuif na nuwe hoogtes. Saam met Jannes se uitstekende draaiboek en regie beloof dit om ’n belewenis van hoogstaande gehalte aan mense van alle ouderdomme te bring,” meen Lessing. 

Verder spog dié blyspel ook met ’n indrukwekkende rolverdeling, waaronder Ilán van Staden (Die Gelofte-musiekblyspel), Jackie-Lulu en vele meer. 

“Ná die sukses van ‘Die Gelofte’-musiekblyspel, wat AfriForum in samewerking met Johan Vorster en Jacomien de Wet, van Inhoud Huis Musiek, op die planke gebring het by die AfriForum Teater, is dit ’n voorreg om weer saam met hierdie talentvolle span te kan werk. Die Kaplyn is hoopgewend, vol lewenslesse en gee ’n empatiese blik op gesinne se opofferings tydens die grensoorlog, terwyl dit ook die gehoor sal vermaak met puik musiek en puik akteurs,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

“’n Paar temas wat in die agtergrond van ’n oorlog plaasgevind het soos die liefde, genade, geloof, vergifnis, verhoudings en struikelblokke word ondersoek. Die Kaplyn is ’n familiesaak wat almal raak, nie net die troepe nie. Daar word gepoog om ’n musiekblyspel op die planke te plaas wat die hele gesin kan geniet,” verduidelik Vorster en De Wet. 

“Teatergangers wat van ‘Die Gelofte’ gehou het gaan beslis waarde kry en gaan ’n sakdoek van die begin af moet saambring. ’n Fiktiewe storie word teen die agtergrond van die Grensoorlog vertel. Deur dié verhaal word hulde aan die helde gebring wat onder baie van ons dakke woon, maar waarvan ons so min weet. Ons voel bevoorreg om weer die kans te kry om ’n storie uit ons nabye verlede in die vorm van ’n musiekblyspel te kan vertel.”

Die Kaplyn vertel ’n hartroerende verhaal uit ’n tydperk in die Afrikaner geskiedenis. Die puik kombinasie van draaiboek, musiek en toneelspel sal die kyker op ’n nostalgiese reis neem wat hulle sal bybly lank nadat die gordyne gesak het. 

Regisseur, Jannes Erasmus, sluit af: “Ons kan elkeen identifiseer met ’n oorlog, in jou binnekamer, by die werk, by die skool; elkeen van ons weet hoe dit voel om teen iets groter as onsself te baklei. 

Die Kaplyn is onder andere ’n metafoor vir ’n oorlog, jóu oorlog en ek glo daar is iets waardevol wat elkeen hier sal kan weg neem.”

Kaartjies vir dié musiekblyspel, wat op 26 April 2023 afskop, is nou beskikbaar.

Besoek gerus: www.diekaplyn.com vir meer inligting. 

SOSIALEMEDIASKAKELS

AfriForum Teater

Facebook, Instagram

Webblad: www.afriforumteater.co.za