fbpx
Dink buite die boks terwyl jy in die boks sit

Dink buite die boks terwyl jy in die boks sit

Daar is tans soveel mense sonder ’n inkomste gelaat met die staat van inperking. Alhoewel sulke tye die normale gang van jou dagtaak bemoeilik, is dit juis nou dat mens kreatief moet dink. Dalk kan jy selfs jou produk of diens verbeter.

Dit is glad nie ’n geheim dat die vermaaklikheidsbedryf een van die bedrywe is wat die hardste op ‘n finansiële vlak getref is deur SARS-CoV-2 (die koronavirus/Covid-19) nie. Talle kunstenaars sal dit vanaf hierdie maand aan hul sakke begin voel siende dat die laaste inkomstes se geld nou begin opdroog.

Goeie advies is natuurlik altyd om meer as een inkomstestroom vir jouself te hê veral vir tye soos wat ons tans beleef. Kunstenaars kry dit gewoonlik reg deur musieklesse aan te bied vir belangstellendes.

Maar dit benodig persoonlike aandag en kontaktyd … so hoe nou gemaak? Gelukkig leef ons in ’n moderne era met moderne tegnologie wat reeds vrylik beskikbaar is.

Jy kan die tegnologie só aanwend om te verseker dat jy steeds ’n inkomste kan genereer:

Bied afstandmusieklesse aan

Die meeste mense beskik reeds oor die nodige toerusting om hierdie te laat werk. Gewoonlik benodig jy en jou student elkeen ten minste ’n slimfoon met ’n internetkonneksie. Hierdie is ’n baie doeltreffende manier om seker te maak dat jy die nodige lesse met jou studente ingewerk kry. So sal jy jou inkomste verseker en die student sal nie agterraak met sy/haar vordering nie.

Indien jy goedkoop data benodig, is ‘n RAIN simkaart ’n goeie opsie. RAIN bied data teen baie billike tariewe (maar maak egter seker dat jy wel opvangs het alvorens jy ʼn RAIN simkaart aanskaf). Jy kan selfs nou in die inperkingstydperk ’n RAIN simkaart bekom. Volgens hul webblad sal RAIN steeds aflewerings hanteer gedurende die staat van inperking.

Hou aanlynkonserte

Konserte is reeds volop beskikbaar op Facebook, Twitter en YouTube, en kunstenaars vermaak die gehore reeds van dag 1 af. Alhoewel hierdie goeie blootstelling is, wonder mens tog of dit werklik inkomste genereer?

Dalk nie direk nie – maar dit kan ’n kunstenaar die geleentheid bied om vir donasies te vra sonder om as ’n bedelaar oor te kom. Dit kan ook vir die kunstenaar die geleentheid bied om sy/haar produkte te bemark: albums, hemde, shout-out videos ens. 

Stel ʼn Patreon-rekening op en vra vir mense om jou te borg

Patreon is reeds ’n goed gevestigde naam in die buiteland. Talle onafhanklike kunstenaars het ’n goeie, volhoubare inkomste en ondersteuning vir hul kuns gevestig deur hierdie platform te gebruik.  Alhoewel dit nog nie baie bekend is in Suid-Afrika nie, is dit dalk nou die tyd om hierdie opsie aan jou gehoor voor te lê op jou sosialemediaplatforms.

Wat is Patreon?

Patreon is ’n platform wat kunstenaars help befonds wat gereeld inhoud aanlyn genereer. Dit laat die kunstenaar toe om fondse op ’n gereelde basis direk van sy/haar aanhangers in te samel. Dit kan weekliks, maandeliks of eenmalig geskied. Patreon ondersteun ʼn wye spektrum van kunste: musikante, tekenaars, videograwe en skrywers, om net ’n paar te noem.

Verkoop van jou talente

In Londen is daar oral kunstenaars op straat wat hul talente aan die publiek verkoop. Een baie spesifieke kunstenaar wat my byval, is die digter wat op aanvraag persoonlike gedigte skryf. Nou is dalk die tyd om ’n lied, ’n skilderwerk, gedig of verhaal teen ’n prys aan jou aanhangers te verkoop of op te veil.

’n Kreatiewe brein kan probleme op ’n kreatiewe manier oplos! Verhoed dat die inperking jou kniehalter en jou sonder geld laat. Nou is die tyd om waarlik buite die boks te dink!