MOFFIE-film rol nou in jou tuis-teater!

MOFFIE-film rol nou in jou tuis-teater!

‘n Wêreldwye beroep op sosiale distansiëring – en nou die staat van inperking oor die hele Suid-Afrika – om die verspreiding van SARS-CoV-2 (koronavirus/Covid-19) onder beheer te kry, het produksiemaatskappye oor die wêreld heen genoop om alternatiewe maniere in te span om gehore te lok – so moes die span agter MOFFIE ook vinnig planne beraam.

Die fliek se vervaardiger, Eric Abraham, en regisseur, Oliver Hermanus, het reeds ’n paar weke gelede ’n proses van stapel gestuur en ’n Plan B saamgestel wat verseker dat mense dié gerekende film tuis kan kyk.

MOFFIE, die storie van ’n jong dienspligtige wat sukkel om in apartheid-Suid-Afrika se weermag te oorleef midde sy persoonlike stryd met homoseksualiteit, is dus van vandag af aanlyn beskikbaar.

Volgens Hermanus was dit Abraham wat eerste voorgestel het om ’n werkbare Plan B vir die fliek se plaaslike vrystelling en verspreiding te vind nadat die koronavirus vinniger begin versprei het, en Suid-Afrika sy eerste geval aangemeld het. “Ons wil regtig hê dat almal MOFFIE moet sien en die afgelope paar weke het ons ’n plan daargestel om die fliek aanlyn beskikbaar te maak om in die veiligheid van jou eie huis te kyk,” sê Hermanus. “Jy kan dalk nie die huis verlaat nie, so ons hoop ons kan jou minstens vermaak.”

Daar is ’n paar goed om van kennis te neem voordat jy ’n kaartjie koop om die fliek aanlyn te kyk:

  • Kaartjies kos R150 per vertoning en is vir 24 uur geldig. Die fliek kan slegs een keer van begin tot einde gekyk word. Hoewel jy in dié 24 uur die fliek kan stop en dan later verder speel, kan jy nie die blad toemaak of herlaai nie. Jy kan ook nie jou rekenaar afskakel nie. Jou kyksessie sal verlore wees en jou kaartjie daarna ongeldig.
  • Gaan asseblief die beurtkrag-skedule in jou gebied na voordat jy die fliek begin speel. Indien jou kyksessie onderbreek word, kan jy ongelukkig nie weer die fliek kyk nie. Volgens berigte het Eskom egter vrese besweer dat daar in dié tyd kragonderbrekings sal wees.
  • ’n Lynspoed van minstens 8MBps is nodig om die fliek te kyk, maar ’n vinnger lynspoed van 10MBps word aanbeveel.
  • Ons vra om verskoning vir enige ander onverwagse haakplekke – ons is steeds besig om moontlike probleme en uitdagings uit die weg te ruim om ’n genotvolle ervaring te skep. Indien jy hulp verlang, nader ons asseblief op enige van ons sosialemediablaaie. 

Sedert die film op Suid-Afrikaanse bodem vrygestel is, is dit hoog aangeskryf deur resensente en het dit vyfsterresensies van noemenswaardige publikasies landswyd ontvang. Grethe Kemp van die City Press verwys na die film as “rolprentvervaardiging in sy kragtigste vorm”, Herman Eloff – Channel24 noem dit ’n “film-meesterstuk”, Laetitia Pople van Die Burger / Beeld / Volksblad / Netwerk24 beskryf die film as “’n aanval op al jou sintuie”. Pieter van Zyl van Huisgenoot & YOU sê dit is beslis ’n film om te gaan kyk en dat dit vir seker iets gaan wakker maak by baie kykers.

Terry van der Walt van die Sunday Independent sê: “Moenie dat die titel van die film jou afsit nie, want dit handel oor soveel meer as homoseksuele mans se oorlewing van die weermagondervinding. Dit handel oor die menslike toestand, en die vreesaanjaende dinge waaraan ons in die lewe blootgestel word, en die onuitgesproke waarheede oor mans en hoe hulle met mekaar verband hou.”

Besoek www.moffiefilm.com/stream om die film nou aanlyn te kyk.

MOFFIE se rolverdeling sluit Kai Luke Brümmer, Hilton Pelser, Matthew Vey, Stefan Vermaak en Ryan de Villliers in. Eric Abraham en Jack Sidey is die vervaardigers met Theresa Ryan-van Graan as mede-vervaardiger.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram, Twitter