fbpx
Jannie du Toit loots kompetisie vir musikante

Jannie du Toit loots kompetisie vir musikante

In 2021 het Jannie du Toit – ter viering van 50 jaar op die musiekpad – in samewerking met die ATKV, Vonk Musiek en Rosestad 100.6fm ’n opwindende projek aangekondig. Die rock/blues weergawe van sy bekende ’n Liedjie vir jou, wat Karen Zoid in 2018 saam met hom opgeneem het, was vir hom die inspirasie om ’n kompetisie te loods met die fokus op liedjies wat hy oor die afgelope halfeeu geskryf het.

“Ek wil graag hoor hoe ander jong musikante my liedjies – soos Karen gedoen het – transformeer.”

Die idee is nie om die woorde en wysie totaal te verander nie, maar dat die liedjie nuut gemaak moet word deur daaraan ’n jazz-, rock-, blues-, rap- of dalk techno-klank te gee. Ook a capella- of instrumentale weergawes van die liedjies kan ingeskryf word. Jongmense in die buiteland wat Afrikaanse wortels het of enigeen wat in ons taal en musiek belang stel, mag natuurlik deelneem.

Deelname is gratis en daar is tyd tot en met Vrydag 13 Mei 2022 om inskrywings af te rond en ’n MP3 via die webwerf in te stuur. Die kompetisie, ’n Nuwe Baadjie, is op 13 Desember 2021 afgeskop, die dag waarop Jannie sy 70ste verjaarsdag gevier het. Dit is daarom uitsluitlik gemik op sangers en musikante van 35 jaar en jonger en die idee is dat hulle een van Jannie se liedjies neem en daarvoor ’n nuwe baadjie aantrek.

Op die webblad www.nuwebaadjie.co.za is daar 50 MP3’s van Jannie se liedjies geplaas waarmee jong kunstenaars kan eksperimenteer deur een of meer liedjie/s van hulle keuse op te kikker en ’n nuwe baadjie daarvoor aan te trek.

Elke inskrywing moet afsonderlik voorgelê word. Vir Jannie was dit ’n logiese keuse om saam met die ATKV aan hierdie projek te werk omdat sy Afrikaanse folk-groep Trilogie byna 50 jaar gelede finaliste in die ATKV se Crescendo-kompetisie was.

Verder ook omdat hy saam met Christa Steyn, Lucas Maree en Johann van der Watt vir 15 jaar lank in die tagtiger- en negentiger-jare liedjie-werkswinkels vir die ATKV aangebied het. Dié werkswinkels het uitstaande kunstenaars soos Anna Davel, Riku Lätti, Theuns Jordaan, Joe Niemand, Kevin Leo, Marlise Scheepers, Wanda Bam, Monica Maree en “Yoti – die Griekse Boertjie” opgelewer.

Dit is ook bygewoon deur talle ander wat diep spore in Afrikaanse musiek sou trap, soos Kalla Bremer, Philip
Nel, Roelof Colyn, Clinton Zerf, Andy Lubbe van Innibos Kunstefees-faam en sy seun Murray Lubbe wat tans ’n
top klankingenieur is. Jannie meen die ATKV het nog altyd wonderlike geleenthede in die kunste aan jongmense gebied en dat ’n Nuwe Baadjie dié tradisie verder sal voer.

Oor Jannie se pad … ’n bietjie agtergrond

Jannie du Toit se musiekloopbaan kronkel die afgelope 50 jaar deur die Afrikaanse musieklandskap. Hy was lid van die folk-groep, Trilogie wat in 1974 en 1975 die eindronde van die ATKV se Crescendo-kompetisie bereik het. In 1975 was hulle meermale te sien op die toetsuitsendings van SATV en hulle liedjie Droom langs stille waters kry in 1976 ’n “Eervolle Vermeldingsprys” in die American Song Festival.

Jannie streef van die begin van sy loopbaan af daarna om woorde en musiek in ’n gelukkige huwelik met mekaar te verenig, en as deel van die Musiek- en Liriekbeweging van die laat sewentigs bevorder hy Afrikaanse “kleinkuns”, wat in Engels vertaal sou kon word as “modern folk” – die genre wat deur kunstenaars soos Bob Dylan en Paul Simon bekend gemaak is.

Hy bekwaam hom as prokureur, maar bedank in 1980 uit die regsberoep om ’n musiekloopbaan te begin, want sing en musiek maak was wat hy vir die res van sy lewe wou doen. Dit was veral ’n Liedjie vir jou (wat hy in 1978 geskryf het), wat luisteraars regop laat sit het en ook aan hom ’n platekontrak besorg het.

Jannie skryf gedurende die tagtigerjare, saam met onder andere prof Anna Neethling-Pohl, musiekblyspele vir ’n studentegroep by die Universiteit van Pretoria. Later in dié dekade sing hy Nederlandse kleinkuns in kabaretkonserte saam met Laurika Rauch – en daarna sou Nederlandse liedjies ‘n belangrike deel van sy repertorium word. Van 1986 tot 2011 – ’n volle 25 jaar – werk hy saam met die skitterende pianis, verwerker en liedjieskrywer, Christa Steyn. Hulle het wêreldwyd saam opgetree en ’n unieke klank in Afrikaanse musiek daargestel.

Nadat Christa in 2012 oorlede is, werk Jannie saam met ’n verskeidenheid ander kunstenaars en hy het sedertdien twaalf nuwe verhoogproduksies en albums die lig laat sien.

Wat op die spel is …

Prysgeld in die kompetisie is R30 000 vir die wenner, R20 000 vir die naaswenner en R10 000 as derde prys, wat ’n stewige hupstoot vir jong kunstenaars kan wees. Dié pryse word deels befonds deur een van Jannie se groot aanhangers in Australië – ’n Engelssprekende oud-Suid-Afrikaner, Jack Bantjes – wat Jannie op dié manier wil bedank vir sy “inspirerende musiek” en ook vir Jannie se werk as ’n aangename herinnering aan Jack se Suid-Afrikaanse erfenis.

Benewens die kontantprys sal die 12 finaliste se verwerkte liedjies op ’n album onder Jannie se JNS-musiekhandelsmerk opgeneem word, en vervaardig en versprei word deur Vonk Musiek – ook op wêreldwye kuber-platforms.

Die 12 kunstenaars sal verder die geleentheid kry om ’n ATKV-werkswinkel wat oor twee dae strek, by te woon. Tydens die werkswinkel sal Jannie en van sy kollegas die deelnemers help om hulle weergawes te verfyn en gereed te kry vir die gala-aand, waar elke finalis die geleentheid sal kry om dit voor ’n gehoor aan te bied.

Webwerf

https://www.nuwebaadjie.co.za/