Germandt Geldenhuys – IN GEVAL

Germandt Geldenhuys – IN GEVAL

Kykers het ‘n kort segment daarvan vir die eerste keer op Binnelanders gehoor aan aan die begin van Januarie 2022, maar nou kan hulle die volle liedjie uiteindelik hoor! Germandt se debuut-enkelsnit, IN GEVAL, is nou beskikbaar op alle stromingsplatforms.

It’s never too late to be what you might have been”, lui die bekende gesegde Deur George Eliot.  Dis nooit te laat om te begin nie, glo Germandt: “Dit het my wel 32 jaar gevat om uiteindelik my eerste oorspronklike, self-geskrewe enkelsnit vry te stel, maar better late than never!”

Germandt sing al vandat hy kan onthou, en daar is selfs video-bewyse dat hy op die brose ouderdom van 4 jaar oud in sy pa se gemeente in Royldene, Kimberley voor mense gestaan en sing het met ‘n mikrofoon.  “Dit was nog altyd my droom om my eie musiek vry te stel, en hierdie hele proses was ongelooflik bevrydend en vervullend”, sê Germandt.  Meeste mense ken dalk vir Germandt as die liefdevolle Louis Koster op kykNet se Binnelanders – ‘n rol wat hy vir die afgelope 6 jaar al vertolk.

Dit was juis sy betrokkenheid by Binnelanders wat hom aangespoor het om IN GEVAL te skryf. Met ‘n onlangse storielyn waar sy karakter ‘n “sangloopbaan” wou begin, was die skrywers van dié gewilde reeks op soek na ‘n liedjieskrywer wat ‘n oorspronklike liedjie kon skryf wat ‘Louis’ dan in die storielyn kwansuis sou skryf en sing. Germandt bied toe aan om self te probeer en soos hulle sê: the rest is history!

Nadat kykers uiter positief gereageer het op die 30 sekonde segment van die liedjie wat uitgesaai is, het Germandt besluit om dit te voltooi en op te neem as ‘n enkelsnit. Saam met Sean Butler, die bekende en talentvolle musiek-vervaardiger, het Germandt toe verder aan die melodie en lirieke geskaaf en die liedjie is begin Februarie 2022 voltooi.  “Ek en Sean het in die spasie van 3-4 ure die melodie geskryf en daarna het ek ongeveer 2 weke aan die lirieke geskaaf.

Ek het diep gaan delf omdat ek wou hê die liedjie moet iets wees waarna enige iemand kon luister en aanklank daarby vind.”

IN GEVAL is presies dit – ‘n enkelsnit wat spreek tot universele liefde. Vir enige iemand wat al ooit lief was vir iemand anders, vir enige iemand wat al ooit die regte woorde gesoek het om hulle liefde te beskryf, vir enige iemand wat al ooit gesukkel het om die ander persoon te laat verstaan hoe hulle voel.

Ouers en kinders, eggenote, broers en susters, vriende en verliefdes – dis nie altyd maklik om te sê hoe ‘n mens voel nie, maar dis belangrik dat die ander persoon dit weet, in geval hulle enigsins sou wonder of twyfel.

IN GEVAL is Germandt se eerste enkelsnit en dié liedjie sal hom ongetwyfeld aan die publiek voorstel as ‘n kunstenaar om dop te hou.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram