fbpx
Jemma Catherine – VERKLEUR VERSKEUR

Jemma Catherine – VERKLEUR VERSKEUR

Jemma Catherine is bekend vir haar eerlike lirieke en pop-rock Afrikaanse snitte, en dié slag bederf sy haar aanhangers met haar nuutste enkelsnit getiteld VERKLEUR VERSKEUR.

Die liedjie is amper ʼn belofte aan ʼn persoon se naastes en toekomstige mense wat in hul lewe gaan inkom, verduidelik Jemma die tema van die VERKLEUR VERSKEUR.

Die liedjie is uit Jemma, wie se regte naam Jemma Catherine Pheiffer is, se eie pen. Die enkelsnit is ‘n synth-pop snit. 

Ek het hierdie liedjie in die tweede jaar van die Covid-tydperk geskryf en dit was toe dat ons my eerste drie liedjies opgeneem het. Ek het eers nie baie daarvan gehou nie en het nie destyds gedink dit was my klank nie,” verduidelik Jemma.

VERKLEUR VERSKEUR is Jemma se mees poëtiese liedjie tot dusver. Die liedjie is geskryf uit Jemma se behoefte om geestesgesondheid as onderwerp aan die groot klok te hang.

“Om musiek te skryf was my manier van cope toe ek deur diepe waters is. Ek dink veral in die Afrikaanse bedryf word daar nie baie gepraat oor geestesgesondheid nie en dit is amper asof jy in geheim deur dit moet gaan.”  

Jemma beplan om meer vertonings te lewer en om nog nuwe musiek uit te reik. Sy beplan ook ʼn paar samewerkings met ander kunstenaars asook ʼn musiekvideo vir VERKLEUR VERSKEUR.

Die musiekvideo is gebaseer op ʼn rolprentstel. Die produksie het grootliks gefokus op die skerms en ligte, en is kameras ingebring en ʼn TV-stel te ontwerp met verskillende tonele rondom ʼn motor en grafika op ʼn LED-skerm. 

Die video is by die Monte De Dios-venue in Pretoria-Oos geskiet.

Jemma Catherine het voorheen liedjies soos “SOS” saam met Georic Lomas, “Klaar gesmeek” en “Versmoor” uitgereik.

Meer oor die kunstenaar:

Jemma Catherine skryf al sedert die ouderdom van 12 haar eie liedjies en neem reeds van die ouderdom van ses aan kunswedstryde en Eisteddfods deel.

Die opkomende sangeres en liedjieskrywer het grootgeword met haar pa, Leon, se uitgebreide versameling albums van verskeie genres van musiek. Sy het van kleins af vertonings en geleenthede bygewoon aangesien haar pa ‘n geleentheidsmaatskappy, EPH Productions, besit.

“’n Groot deel van my liefde vir musiek kom van my ouers af. Hulle het my bly motiveer om hierdie droom van my te volg,” sê Jemma Catherine.

Haar grootste mentor in die musiekbedryf is die kunstenaar Janie Bay, wat vir haar ʼn voorbeeld is van hoe om as ʼn vrou sterk te staan in die musiekbedryf.

Volgens Jemma Catherine streef sy altyd daarna om eerlik te wees met haar musiek en probeer sy om altyd weerloos te wees in die oomblik met die boodskap wat sy wil oordra.

Die sangeres is ook tans besig om haar honneursgraad in verbruikerswetenskappe te voltooi, maar spits haarself ten volle toe op haar musiekloopbaan.  

“Ek wil sterk staan vir wat ek as kunstenaar en skrywer met my musiek wil bereik en wat ek na hierdie bedryf wil bring.”

SOSIALE MEDIA

FacebookInstagram