fbpx
Juanita du Plessis – LIEWE JINNE!

Juanita du Plessis – LIEWE JINNE!

Die koningin van Afrikaanse popmusiek, Juanita du Plessis, bederf aanhangers na meer as drie jaar sedert haar vorige vrystelling met ‘n splinternuwe sokkietreffer getiteld, LIEWE JINNE!

LIEWE JINNE! is ‘n lekker catchy liedjie wat beslis die dansvloere gaan volmaak of jy nou wil langarm, yskas skuif of sommer net skoffel. Die liedjie handel oor daardie lekker naweekkuier op ‘n plattelandse dorpie. Waar almal mekaar ken – en die magiese gevoel van samehorigheid tussen vriende en familie. Natuurlik ʼn sokkiejol soos nét ons Suid-Afrikaners kan!

Juanita du Plessis het LIEWE JINNE! self gepen en Murray Lubbe het die enkelsnit vervaardig. Die enkelsnit bewys sy is terug met mening en gereed om konsertsale reg oor die land aan die brand te sing.

“Dit vat my ‘n bietjie terug na my jonger dae waar gemeenskappe net spontaan bymekaar gekom, gekuier en natuurlik die dansvloer witwarm gedans het!” vertel Juanita.

LIEWE JINNE! bevat ook humoristiese staaltjies oor karakters wat ʼn mens soms op dié lekker plattelandse kuiers sal raakloop. Waarvan sy al menige ontmoet het soos sy deur die land toer en musiek maak oor die laaste byna 25-jaar.

“Elke partytjie het ook sy eie unieke kleurvolle karakters wat almal vermaak en laat skaterlag. Daarom het ek ook oor hulle geskryf, want humor is so eg Afrikaans. Die liedjie gaan beslis jou voete laat jeuk. Dit maak ʼn ritme in jou los wat jy nie eers geweet het jy het nie!” lag sy.

Die musiekvideo van LIEWE JINNE! is in Mabalingwe naby Bela-Bela verfilm en het ‘n sterk humoristiese aanslag. Dit vertel die verhaal van dié kuier op ‘n plattelandse dorpie met al die kleurvolle karakters en natuurlik is die dorp is reg om saam te kuier.

Robbie Wessels maak ook sy verskyning tesame met talle ander karakters wat jy al sou leer ken het met die drie lusmaker videotjies wat in die aanloop tot vrystelling op haar sosiale media platforms gedeel is. Musiekvideo is vervaardig deur ETG Creative.

LIEWE JINNE! is nou op alle stromingsdienste beskikbaar so maak seker hy is op jou naweekspeellys. Klik hier:https://orcd.co/juanitaliewejinne

Die musiekvideo is vanaf 12:00 vandag op YouTube beskikbaar.

Meer oor die kunstenaar

Juanita du Plessis is al byna drie dekades doenig in die Afrikaanse musiekbedryf as sanger en liedjieskrywer, maar dit is vanjaar 24 jaar sedert sy haar debuutalbum uitgereik het.

“Musiek is deel van my hartklop en ʼn passie, ‘n gawe wat nog altyd deel is van my. Ek kan my nie ʼn lewe sonder musiek indink nie,” vertel sy.

Juanita du Plessis skryf oor dinge wat sy self voel, sien, hoor en ervaar. Omstandighede, mense en gebeure rondom haar vermeng met verbeelding en herinneringe.

“En my ondersteuners se bodemlose liefde, opregte omgee en aanmoediging is altyd ʼn inspirasie om nuwe musiek te skryf en met hulle te deel!“

Juanita du Plessis het al verskeie toekennings ingepalm tydens haar kleurryke loopbaan. Die Ghoema Diamant-musiektoekenning vir meer as 2 miljoen albumverkope is beslis ‘n prestasie wat haar gestand doen. Sy het ook onlangs ʼn goue toekenning ontvang vir haar laaste vollengte album, Dis Tyd, wat kort voor die Covid-pandemie uitgereik is.

“Where words fail, music speaks” is haar gunsteling aanhaling, want sy weet presies net hoe om te práát deur haar musiek.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram, X, TikTok