fbpx
Leer op jou knieë in gebed, sing Vandiét Marx

Leer op jou knieë in gebed, sing Vandiét Marx

Moeilike tye dwing mense op hul knieë en in Vandiét Marx se nuwe enkelsnit, Waar Ek Leer, vertel sy dat dit juis gebed is wat mens deur die uitdagende tye dra. “Ek het deur verskeie teleurstellings in my lewe gegaan en dit het my laat voel of ek uitgesluit is – soos iemand wat in die reën voor ’n toe deur staan met die hoop dat die deur oopgemaak sal word,” vertel sy.

“Ek het vir baie lank gevoel dat my winterseisoen nie wil verby gaan nie, maar ek het gebly hoop, glo en vertrou dat deur gebed my verlange en vrae gehoor sal word. Ek het gehoop vir nuwe winde wat sal waai oor my seer en dat my seisoen sal draai, en dit het!,” het sy bygevoeg. Waar Ek Leer is uit Vandiét se pen en volgens haar glo sy dat mense sal kan vereenselwig met dié liedjie se woorde.

“Ons almal gaan êrens in ons lewens deur ’n moeilike tyd,” verduidelik sy gou.Vandiét het vertel dat dit veral die afgelope jaar is waar mense saam deur soveel hartseer moes werk en op die einde is gebed wat almal deurdra. “Met Waar Ek Leer wil ek luisteraars bemoedig en herinner dat as hulle op hul knieë is, hulle die krag sal kry,” het sy vertel.

Die musiekvideo word ook saam met die liedjie vrygestel en beeld die rou, eerlike boodskap van dié liedjie uit. “Die wit trou rok beeld uit die rein emosies wat vuil word as gevolg van seer. Soms kom seer oor ons pad sonder dat ons gevra het daarvoor, soms is ons onskuldig wanneer slegte of hartseer dinge in ons lewe gebeur of oor ons pad kom. Ongevraagd,” verduidelik Vandiét.

In die musievideo word die karakter ook in ’n rooi rok op ’n bootjie gesien en dít beeld weer die oomblik uit wanneer mens afsonder in gebed. “Ons elkeen het ons eie plek waar ons stilword en vir my persoonlik is dit langs die water,” het sy verduidelik. Die musiekvideo is in Wildernis, onder die Kaaimansbrug, verfilm.

Dié veelsydige sangeres, liedjieskrywer en aktrise het gedurende 2020 haar enkelsnit, Vergewe, vrygestel. Sy het ook rolle in Koringberg, Sielspieël en verskeie kortfilms en verhoogstukke vertolk. Koringberg is ’n Kyknet Film wat deur André Velts vervaardig is. Vandiét het die rol van Susan Fouche vertolk. In 2010 is sy vereer vir haar rol in Sielspieël, by die die Horror Festival in Kaapstad, waar sy die toekenning vir Beste Vroulike Hoofrol ontvang het.

Waar Ek Leer is nou beskikbaar op alle digitale platforms hier.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook