fbpx
Marius Lubbe stel eerste musiekvideo vry!

Marius Lubbe stel eerste musiekvideo vry!

Marius Lubbe het onlangs sy heel eerste enkelsnit, DIS WAT SAAK MAAK, vrygestel en dit is ongelooflik goed ontvang. Dié lekkerluister popliedjie kom uit die pen van Vaughan Gardiner. Nie net word dit gehoor op verskeie groot radiostasies nie, maar is ook vir meer as twee agtereenvolgende weke aangewys as Groot FM se Gunsteling Nuwe Vrystelling.

Om hierdie hartlike ontvangs in die bedryf te vier, is die musiekvideo van hierdie treffer, wat deur Fathom Media verfilm is, ook nou beskikbaar.

Kyk die video hier

“Met die video wou ons graag wys wie ek is en daarom het ons probeer om dinge eenvoudig te hou,” verduidelik die sanger oor die video waarin hy sentraal in die kollig staan. “Die boodskap van die liedjie is juis dat ons mekaar moet help en moet wys dat ons omgee waar ons kan. Omgee begin soms met klein dingetjies, soos ’n glimlag. Daarom is daar besluit om hierdie gedagte oor te dra deur te wys hoe ’n klein aksie ’n groot impak kan hê.”

Marius beskryf homself as ’n openhartige mens met ’n groot passie en liefde vir musiek. Dié talentvolle musikant sing reeds vandat hy ses jaar oud is en woon tans in Pretoria.

Nadat hy op skool deel was van ’n solosangopleidingsprogram, het hy geweet dat hy bestem was om op die verhoog te wees en het hy aan al wat ’n konsert en kompetisie is deelgeneem. Sedertdien het hy al verskeie vertonings op sy kerfstok en vind hy dit steeds baie terapeuties om sy musiek met gehore te deel.

Die kunstenaar geniet ’n wye verskeidenheid musiek, maar sonder ADAM uit as sy grootste inspirasie. Hy verklap ook dat hy graag ’n onderwyser sou wou word as hy nie kon sing nie, omdat hy dit nog altyd geniet het om met mense te werk. 

As jy hom uitvra oor sy loopbaanhoogtepunte en waarmee hy homself nog besig hou, sê hy: “Ek is tans besig met die finale jaar van my BCOMP-graad by Belgium Campus Pretoria. Om my nuwe album te kon opneem, wat binnekort beskikbaar sal wees, en om saam met so ’n wonderlike en kundige span mense te kon werk, is vir my ’n groot hoogtepunt.”

Die musiekbedryf het vir Marius Lubbe geleer dat harde werk, respek en nederigheid baie belangrike bestanddele is as jy graag sukses wil bereik. DIS WAT SAAK MAAK is nie net ’n pragtige resultaat van die werk en passie wat hy reeds in sy loopbaan belê het nie, maar is ook een van daai liedjies wat jou sal bybly lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het. 

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Instagram