fbpx
MTV Documentary Films bekom uitsaairegte vir bekroonde Suid-Afrikaanse kortfilm – My Father The Mover

MTV Documentary Films bekom uitsaairegte vir bekroonde Suid-Afrikaanse kortfilm – My Father The Mover

My Father The Mover

Wenner: Beste Dokumentêre Kortfilm by die Tribeca-Rolprentfees

Regisseur: Julia Jansch

Uitvoerende vervaardiger: Sheila Nevins

Prikkel: Afrika elektriese ‘Gqom’-danse motiveer kinders in die plakkerskampe van Khayelitsha, Suid-Afrika, om uit te styg bo hulle omstandighede en hulle eie ‘superkragte’ te ontdek.

Die Tribeca-bekroonde kortfilm, My Father the Mover, is een van slegs ’n paar handuitgesoekte oorsese dokumentêre wat deur MTV Documentary Films uitgesaai gaan word.

MTV Documentary Films, ’n afdeling van MTV Studios, het die regte bekom om Julia Jansch se inspirerende Afrika-dansverhaal, My Father The Mover (wat aangewys is as Beste Dokumentêre Kortfilm by die Tribeca Film Festival-Rolprentfees), uit te saai. Dié kortfilm is deel van ’n opwindende versameling bekroonde speel- en kortfilms deur uitvoerende vervaardiger, Sheila Nevins. Hierdie lys van films spreek die sosiale, politieke en kulturele onderwerpe aan wat die onmiddellike lewens en toekoms van hedendaagse jongmense raak.

Na die afdeling se amptelike bekendstelling met die Oscar-bekroonde kortfilm, St. Louis Superman, en bekroonde speelfilm, Gay Chorus Deep South, gaan MTV Documentary Films My Father The Mover ook laat kwalifiseer vir die Oscars en ’n volledige toekenningsveldtog van stapel te stuur. “Daar is baie rolprentfeeste met uitsonderlike dokumentêre beskikbaar en dis vir ons ’n voorreg om films uit te saai met hart, siek, insig en visie,” sê Nevins.

My Father The Mover vertel die storie van Stoan (oftewel Mthuthuzeli Stoan MOVE Galela), ’n danser wat kinders in Khayelitsha, Suid-Afrika, help om uit te styg bo hulle omstandighede (armoede en mishandeling) en hulle eie ‘superkragte’ te ontdek deur middel van elektriese ‘Gqom’-danse.

Karakters en stories wat menslik is, het Julia nog altyd geïnspirereer. Tydens haar gesprek met Stoan, het sy gehoor van die werk wat hy in sy gemeenskap doen. Sy het aanklank gevind by sy gees en wou sy storie met die wêreld deel en vir hom ’n platform skep om mense bewus te maak van die werk wat hy doen.

Omdat dié Suid-Afrikaanse regisseur, skrywer en vervaardiger graag wou hê dat die fliek so eg as moontlik moes wees, het sy besluit om dit nie net in dokumentêre styl te verfilm nie, maar ook die regte Stoan te gebruik as akteur. Hy het ’n klein rolprentspan toegelaat om in sy huis en klas te verfilm.

“Die storie is vir my belangrik, omdat Stoan se boodskap en metodes gaan oor vryheid. Alhoewel elkeen van die kinders in sy dansgroep se omstandighede verskil, is die werk wat hy doen universeel… hy is nie verniet The Mover nie en ek het geweet dat sy storie sou aanklank vind by ’n internasionale gehoor,” sê Jansch.

Julia het haar loopbaan in rolprentontwikkeling afgeskop by FremantleMedia en RadicalMedia. Haar kortfilms is al by rolprentfeeste regoor die wêreld bekendgestel en sy is tans besig om aan haar eerste vollengte rolprent te werk. Sy spog met ’n MBA- en MSC-graad van Oxford Universiteit en ’n rolprentdiploma van die New York Film Academy.

Die feit dat MTV uitsaairegte bekom het vir haar kortfilm is ’n mylpaal vir hierdie rolprentmaker, wat tans in New York woon, en die projek as ’n wonderwerk beskryf.

MTV Documentary Films gaan voort met die uitbreiding van die wêreldwye jeughandelsmerk deur middel van sy netwerk van kanale, platforms, funksies en derdeparty-ontwikkeling deur MTV Studios.