fbpx
Plectrum Praatjie – CLAIRE HOPKINS

Plectrum Praatjie – CLAIRE HOPKINS

Claire Hopkins is daarvan oortuig dat oor die afgelope paar jaar, baie Suid-Afrikaners die dapper besluit geneem het om ’n nuwe heenkome oorsee te gaan soek.

Hoewel vriende en familie amper altyd probeer verstaan en dié besluit ondersteun, word baie harte in die proses gebreek en dit is presies waaroor Claire Hopkins se nuutste enkelsnit gaan.

Claire se nuutste lied, GO GETTEM GIRL is ’n country-pop-snit wat reflekteer op die hartverskeurende realiteite waarmee ons tans in die land gekonfronteer word, en die kunstenaar glo dat dit sal aanklank vind by ’n wye gehoor.

Die lied word op 21 Oktober 2022 uitgereik. Intussen het ons met haar gesels om meer uit te vind oor hierdie dinamiese dame en wat gelei het tot die skep van die nuwe lied.

Wie is Claire Hopkins wanneer sy by die huis is?
Mense beskryf my as ‘n privaat, kalm en stil tuisteskepper wat weet hoe om te beplan en te organiseer gedurende die week en wat op naweke in ‘n vermaaklikheidskunstenaar verander.

Watter plek in SA besoek jy graag wanneer jy met vakansie gaan?
St. Francisbaai in die Oos-Kaap. Dit is vir my ‘n stukkie paradys en dis ‘n plek waar ek voel ek kan ontsnap van die allerdaagse, ontspan en afskakel. Ek geniet dit om hier tyd saam met my familie en vriende deur te bring.

Wanneer het jy besef dat jy gebore is om musiek te maak?
Terwyl ek op laerskool was. Die dryf het eers begin blom toe ek in die hoërskool was. Musiek is my manier hoe ek myself kan uitdruk aan ander.

Watter musikante inspireer jou om voordurend te bly ontwikkel as kunstenaar?
Daar is so baie musikante wat my inspireer en elk as gevolg van ‘n ander rede.

Van kleintyd is een van my groot inspirasies Shania Twain. Haar energie, humorsin, houding en haar vermoë om haar luisteraars te inpireer en te motiveer is iets wat ek werklik beny.

Meer onlangse musikante wat my inspireer is opkomende country en pop kunstenaars soos Spencer Crandall en Blu Eyes wat musiek vervaardig wat handel oor geestesgesondheid en hul persoonlike uitdagings wat hulle beleef het. Ek word geïnspireer deur kunsternaars wat eerlik, rou en outentiek is.

Wat was die inspirasie vir GO GETTEM GIRL?
GO GETTEM GIRL is geïnspireer deur my tweeling vriende wat emmigreer het na Engeland so paar jaar gelede. Wat my verder inspireer het is my ander vriende en familie wat ook die groot stap geneem het.

Wie het almal gewerk aan die lied?
My stemafrigter (Jolanda Becker), my vervaardiger (Mark Beling) en ekself.

Wat is jou gunsteling lirieklyn uit die lied?
“Can’t believe what you told me the other day, never dreamed that you would leave us this way”

Wie hoop jy sal aanklank vind by die lied?
Enigeen wat vriende moes groet omdat hulle emmigreer het.

Wat is daar van jou wat mense nie weet nie?
Hmmm…Ek hou daarvan om kunstig te wees en handwerk te doen gedurende die week. Ek is versot op diere en ‘n hondeliefhebber om van kennis te neem. Spinnekoppe kan my gou skrik op die lyf jaag.

Wat is jou boodskap aan Suid-Afrikaners?
Dis nie WAT ons het in die lewe nie, dis WIE ons het wat saakmaak.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram