Hugh Lynn – MY DROOMMEISIE

Hugh Lynn – MY DROOMMEISIE

Die sanger en liedjieskrywer Hugh Lynn se splinternuwe enkelsnit, MY DROOMMEISIE, is ‘n ritmiese pop-rock-liedjie wat handel oor ‘n ou wat oor sy droommeisie droom en die voorreg het om in die oggend langs haar wakker te word.

Die liedjie is uit Hugh se eie pen. Hy het ook self die liedjie gemeng en vervaardig.

Die musikant sê die liedjie is geïnspireer deur sy eie ‘droommeisie’. “Ek het drome gedroom oor my geliefde en dit is ‘n voorreg om my droommeisie in die werklikheid aan my sy te hê. Dit beteken die wêreld vir my.”

Hy vertel hy het besluit om MY DROOMMEISIE as ‘n enkelsnit uit te reik, aangesien hy glo dat baie paartjies daar buite by die liedjie sal kan aanklank vind.

“Ek hoop ook die liedjie sal enkellopendes inspireer om te soek na hulle eie droommeisie- of man.”

MY DROOMMEISIE sal nie net luisteraars lus maak vir die liefde nie, maar dié ritmiese danssnit sal ook voete na die dansvloer lok.  

Die musiekvideo vir MY DROOMMEISIE is in die romantiese, tropiese ligging van Mauritius verfilm. In die video raak Hugh aan die slaap en begin droom oor sy droommeisie in ‘n droomwêreld waar hulle saam aktiwiteite geniet.

“Dit is ‘n spontane musiekvideo wat deur my, my familie en vriende verfilm is terwyl ons onsself op die eiland geniet het.”

Dié opkomende kunstenaar, wat al saam met van die land se grootste kunstenaars op die verhoog verskyn het, sê hy droom daarvan om gereeld ‘n treffersnit uit te reik.

“Ek wil ook graag met elke uitreiking die Apple Music-topspeellyste haal.”

Hugh het op hoërskool begin musiek skryf en het in die skoolkoor en -revue opgetree as voorsanger. Hy het na skool ‘n drie jaar voltydse diploma voltooi gevolg deur ‘n verdere twee jaar voltyds met ‘n B.Sc-graad in klankingenieurswese.

Hy is uiters musikaal en het ook gr. 8 in kitaarspel voltooi en speel ook klavier en tromme. Hy skryf die afgelope agt jaar liedjies en tree professioneel op vir vier jaar.

Volgens Hugh sal hy nog saam met Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Riaan Benadé, Elandré, Appel en Bernice West wil werk aangesien hulle skryfwerk en genres hom inspireer. Hy hou ook van die internasionale musiekster Ed Sheeran.

In sy kort tyd in die musiekbedryf het hy geleer dat om ‘n musiekloopbaan te vestig terwyl jy studeer ‘n groot uitdaging is, maar dat jy beloon word vir harde werk.

“Die bedryf is baie kleiner as wat ek gedink het. Ek sien uit daarna om ’n bydrae te lewer in die musiekindustrie.”

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram, TikTok

LEES MEER

Hugh Lynn – HAND OM DIE LYF