DIS JY (Musiekvideo) – Christiaan Baartman

DIS JY (Musiekvideo) – Christiaan Baartman

DIS JY, die sanger en liedjieskrywer Christiaan Baartman se nuutste enkelsnit, is reeds ’n gunsteling op verskeie radiostasies.

Om aanhangers van dié folk-popsnit nog verder te bekoor, is daar nou ook ’n pragtige goedvoel-musiekvideo beskikbaar wat die tema van die liedjie perfek komplementeer.

Volgens die musikant het hulle oorspronklik ’n komplekse idee gehad vir die video totdat sy vriend, Leon Gropp, met ’n ander voorstel gekom het – wat ballonne, kinderinstrumente en ’n skoolsaal insluit – en die hele plan verander het.

“Dis so ’n lekker opgewekte lied dat ons besluit het om ’n speelse video op te neem van goeie vriende wat lekker kuier en saam speel. Die eindresultaat is so cool en ek sou dit nie anders wou hê nie,” sê hy. “Die liedjie gaan oor daai gevoel wat jy kry wanneer jy die regte een ontmoet. Dit is vir my belangrik om jouself te herinner dat daar liefde is daar buite en dat dit jou sal vind, ongeag van jou omstandighede.”

Die video is deur Jannes de Villiers van Moving North Media verfilm in Laerskool Tygerpoort se skoolsaal. Hulle het baie pret gehad tydens die opname en die man met die grootste baard, Christo Plekenpol van The Captain’s Beard, is die kleinste kitaar in die hand gestop wat gesorg het vir baie humor agter die skerms.

DIS JY is Christiaan se veertiende enkelsnit in drie jaar en volg in die voetspore van suksesvolle treffers soos As Hy Vir Jou Nog Lief Was, Net ’n Bietjie, Stof, ’n Vriend Soos Jy (’n lekkerluister-duet saam met Mack Rapapali), My Vrou en Die Beste Deel.

Christiaan is al byna vir twee dekades in die musiekbedryf doenig en het sy eerste album in 2008 uitgereik. Oor die jare, het hy baie hoogtepunte bereik waaronder verskeie musiektoekennings, ’n kinderalbum saam met Leon Jonkman; om die finale rondte te bereik op Idols SA in 2006; om vir Smokie te open in 2012; sy optrede by Huisgenoot Skouspel in 2007; en vele meer.

Tans werk hy aan ’n hele paar projekte en beplan hy nog heelwat opwindende dinge vir die toekoms.

DIS JY se prettige musiekvideo pas perfek by die opgewekte ritme en lekkerluister-lirieke van die liedjie.

“Mense gaan daarvan hou, want dit is vrolik en sal elkeen wat dit sien laat glimlag,” sluit hy af.

Die enkelsnit is beskikbaar op alle digitale platforms.

Laai dit hier af: https://distrokid.com/hyperfollow/christiaanbaartman/dis-jy

SOSIALE MEDIA

FacebookInstagramYouTube

LEES MEER

Christiaan Baartman – DIS JY

Christiaan Baartman – AS HY VIR JOU NOG LIEF WAS

Christiaan Baartman – MOENIE WAG TOT DIT TE LAAT IS NIE

Christiaan Baartman pleit namens renosters met STOF

Mack Rapapali en Christiaan Baartman vind ‘N VRIEND SOOS JY

Christiaan se nuwe enkelsnit verwoord mans se liefdesverklaring op hul troudag