fbpx
Mack Rapapali en Christiaan Baartman vind ‘N VRIEND SOOS JY

Mack Rapapali en Christiaan Baartman vind ‘N VRIEND SOOS JY

Wie sou nou ooit kon droom dat die gewilde aanbieder en platejoggie, Mack Rapapali en die talentvolle sanger, musikant en liedjieskrywer, Christiaan Baartman kragte sal saamsnoer? Dit is presies wat gebeur het en die uiteinde is ‘n treffende enkelsnit getiteld, ‘N VRIEND SOOS JY.

Christiaan en Mack het by ‘n onderhoud ontmoet en hulle het dadelik baie goed oor die weg gekom. ‘n Kort ruk daarna het hulle mekaar weer raakgeloop by ‘n kuier saam met gemeenskaplike vriende.

“Ek het dadelik gesê hoe lekker dit vir my was om Mack se vriendin ook te ontmoet en hoe skaars ware vriende is. Net daar het ek die inspirasie vir die liedjie gekry en sommer die lirieke in die badkamer geskyf en die liedjie vir Mack gespeel. Ons het net daar besluit om die lied saam op te neem. Dit voel of ek vir Mack al jare ken. Van sy werksetiek tot sy hart vir mense is als waarna ek ook streef,” voeg Christiaan by.

Ek en Christiaan het ‘n baie sterk konneksie. Ons is soos Brannas en Coke,” skerts Mack. “Een van die snaakste ervarings was met die opname van die liedjie, moes ek met ‘n pennetjie op my neus sing. Vir ‘n minuut lank het ek soos ‘n Chipmunk geklink, maar dit het my baie gehelp om my ware stem uit te bring.”

Christiaan het self die lied geskryf en die klankversorging is deur Sean Manley behartig.

“Ons almal het daardie een mens/vriend in jou lewe wat jou van binne en buite ken. Al jou sterk- en swakpunte. Die eerste persoon wat jy bel wanneer jy in die moeilikheid is en die eerste persoon wat jy bel om goeie nuus mee te deel. Dìt, is ‘N VRIEND SOOS JY, “ vertel Christiaan.

“Soms word ons vasgevang in toksiese vriendskappe, waar die een meer vat as wat hy gee. Vriendskappe waar beide partye werklik vir jou die beste gun, is skaars. Dis tyd om vals mense te laat gaan en om meer plek vir opregte mense in jou lewe te gee,” voeg Mack by.

Christiaan en Mack verseker luisteraars en aanhangers dat hierdie slegs die begin is. Die twee goeie vriende en kamerade het nog baie in die pyplyn…

‘N VRIEND SOOS JY  is nou op alle digitale platforms hier beskikbaar. Laai dit hier af.

SOSIALEMEDIASKAKELS:

CHRISTIAAN BAARTMAN –
Facebook
Instagram
YouTube

MACK RAPAPALI –
Instagram
Twitter
Facebook
Youtube

LEES MEER:
Christiaan se nuwe enkelsnit verwoord mans se liefdesverklaring op hul troudag