fbpx
Christiaan Baartman pleit namens renosters met STOF

Christiaan Baartman pleit namens renosters met STOF

Nadat hy een aand gedurende inperking gedroom het oor renosters wat nie kos het om te eet nie, het die talentvolle sanger en liedjieskrywer, Christiaan Baartman, ’n ou liedjie gaan klaarskryf en so is sy nuutste enkelsnit – STOF – gebore, wat tans op radiostasies regoor die land gehoor kan word.

Die musiekvideo, wat deur Leon Gropp verfilm is, fokus op die goeie werk wat Food for Rhinos doen en presies is wat hy in sy droom gesien het.

“Een van die eerste plekke waar mense sny wanneer dit swaar gaan, is op liefdadigheidsfondse. In my droom het ek gesien hoe renosters honger ly en dit breek my. Ek besef toe dat ons almal kos uit dieselfde stof eet en dat dit die mens se werk is om na hierdie diere te kyk,” verduidelik Christiaan.

“Ons het baie opsies oorweeg toe ons die video beplan het, maar nadat ons by dr. Nele Sabbe gehoor het van die goeie werk wat Food for Rhinos doen, het ek besluit om die fokus van die video op hierdie nie-winsgewende organisasie – wat R160 000 per maand nodig het om renosters kos te gee – te plaas.”

Hierdie video speel af in ’n Renosterbewaringsgebied wat spesialiseer in die rehabilitasie en beskerming van renosters wat deur renosterstropery geaffekteer is. “Daar is baie wees renosterkalfies wie se ouers dood is as gevolg van wilddiewe en hulle kort baie kos,” sê hy. “Die beste deel van die opname was die einste babas wat agter ons aangeloop het om liefde te soek.”

STOF is die sewe-en-negentigste liedjie uit dié Huisgenoot Tempo- en Ghoema-bekroonde musikant se pen en volg in die voetspore van die lekkerluister-duet, ’n Vriend Soos Jy, wat hy saam met Mack Rapapali uitgebring het en wat meer as twee miljoen ore bereik het.

Sodra inperkings opgehef word, beplan hy ook ’n landswye toer om sy nuwe musiek met bewonderaars te deel.

Hy is ook baie doelgerig om ’n verskil te maak in die lewens van renosters in ons land en nooi jou uit om te help om hierdie dierspesie vir die volgende generasie te bewaar.

Belangstellendes kan hom direk kontak of meer uitvind oor Food for Rhinos op Facebook en Instagram.

Direkte donasies kan gemaak word op: gofund.me/a8e2547a

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram