fbpx
WHO WANTS TO LIVE FOREVER – Young Hearts Africa

WHO WANTS TO LIVE FOREVER – Young Hearts Africa

Die rock legende Brian May en West End superster Kerry Ellis snoer kragte met Young Hearts Africa om fondse in te samel vir hartoperasies vir behoeftige kinders in Afrika met hul lied WHO WANTS TO LIVE FOREVER.

Wat het ‘n Rock superster, ‘n West End ster en ‘n hartchirurg met ‘n liefde vir musiek gemeen?

who wants to live forever - young hearts africa feature plectrum

Die antwoord is ‘n gesamentlike vasberadenheid om die harte van kinders in Afrika aan die klop te hou.

In ‘n nuwe inisiatief genaamd Young Hearts Africa (www.youngheartsafrica.org), het die kardiotorakale chirurg van Kaapstad, Dr Wilhelm Lichtenberg, kragte saamgesnoer met die Queen-legende Brian May, die West End- en Broadway superster Kerry Ellis en die bubbele Grammy-bekroonde Soweto Gospel Choir.

Queen se mega-treffer WHO WANTS TO LIVE FOREVER is deur May geskryf vir die rolprent Highlander in 1986 en het een van die mees herkenbare melodieë van alle tye geword. Vir hierdie eerste projek in die Young Hearts Africa inisiatief, het die lied ‘n unieke en skouspelagtige klassieke rock crossover styl opknapping gekry in ‘n splinternuwe verwerking deur Riaan Steyn.

Steyn is die musikale genie agter Young Hearts Africa en spog met ‘n lang lys prestasies as komponis, verwerker en musiekvervaardiger. Hy is die direkteur en Hoof Uitvoerende Beampte van Traxtudio International in Kaapstad en het hier andermaal sy towerstaaf geswaai om ‘n werk te skep wat deurdrenk is met ryk Afrika klanke sonder om die patos en emosie van die oorspronklike in te boet.

In kombinasie met Ellis se helder klank, wat op Broadway en in London se West End geskool is, Lichtenberg se suiwer, kragtig swewende tenoorstem en die onmiskenbare energie van die Soweto-koor, neem May se onmiskenbare kitaarspel die konsep van simfoniese rock na ‘n nuwe vlak en May self het die verwerking as “pure genie” beskryf.

Kardiovaskulêre siektes is die derde mees algemene oorsaak van dood in Suid Afrika en die res van die Afrika kontinent. Dr Lichtenberg sê dat hartsiektes by kinders ‘n verwoestende las op gesinne en gemeenskappe plaas, en die voorkoms in Afrika suid van die Sahara is byna tien keer hoër as in ontwikkelde lande.

“Met die huidige wêreldwye krisis, sal hierdie situasie verder eskaleer, en namate hulpbronne elders aangewend word, sal die lewensverlies onder die kwesbaarste lede van die bevolking van hierdie gebiede, dit wil sê hulpelose jong kinders, hele gemeenskappe verwoes.”

Geld wat deur hierdie inisiatief ingesamel word, word geskenk aan The Children’s Cardiac Foundation for Africa, benewens die 1000 Hearts inisiatief van die Christiaan Barnard Departement vir Kardiotorakale Chirurgie by die wêreldbekende Groote Schuur hospitaal en die Rooi Kruis kinderhospitaal in Kaapstad. ‘Niemand kan vir ewig lewe nie’, sê die Singende Chirurg, ‘maar deur die geld in te samel wat nodig is om die harte van die kinders van Afrika aan die klop te hou, kan ons voortbou op ‘n erfenis wat ons kinders sal kan dien lank nadat ons weg is.

SOSIALE MEDIA

Facebook:

Young Hearts Africa,
Wilhelm Lichtenberg,
Brian May,
Kerry Ellis,
Soweto Gospel Choir