fbpx
REËNWEER deur Saarkie is soos ’n reënbui op die dak

REËNWEER deur Saarkie is soos ’n reënbui op die dak

REËNWEER deur Saarkie is soos ’n reënbui op die dak en is, gedurende die eerste vyf weke van die grendeltydperk, geskryf deur SAARKIE se eie Adelè Fouché. “Gedurende inperking, het die paaie ewe skielik stil geword in die aand. Die geraas van karre, is vervang deur naggeluide,” verklap die meisies oor die inspirasie agter die lied. “Almal wil iemand naby aan hulle hê. Grendeltyd het ons fokus geskuif na die dinge wat belangriker is as die gejaag van die daaglikse lewe.”

SAARKIE Reënweer
Foto: Willem Foster (willemfosterphotography)

Hierdie Vrouemaand hou Suid-Afrika se gunsteling-damesrockgroep die eva-naam hoog, met die vrystelling van ’n splinternuwe enkelsnit waarna aanhangers nou al vir ’n hele ruk lank uitsien.

Dié snit bou natuurlik voort op die unieke rockklank waarvoor die trio bekendheid verwerf het en is een van daardie liedjies wat jou dwing om stil te staan en te luister wanneer jy dit vir die eerste keer hoor. “Almal hou daarvan om te ‘cuddle’ as dit reën. Dis lekker om naby aan iemand van wie jy hou te wees as die donker wolke nader kom,” verduidelik hulle. “Die liedjie moet luisteraars wegvoer na die eerste paar weke van grendeltyd; toe niemand ’n wekker gestel het nie, die natuur al was wat jy saans kon hoor en jy saam met jou geliefde kon kosmaak. Na enige goeie herinnering van hierdie tyd.” 

SAARKIE, wat bestaan uit Adèle Fouché (kitaar- en mondfluitjiespeler, voorsanger en liedjieskrywer), Lila Botha (dromspeler en agtergrondsanger) en Mjön van Blommestein (baskitaar-, ukulele- en mondfluitjiespeler, agtergrondsanger, en mede-liedjieskrywer) vier vanjaar hulle elfde bestaansjaar en word beskou as een van die mees suksesvolle damesrockgroepe in die land.

Die Saarkies het bekendheid verwerf vir hulle energieke elektries-akoestiese styl en is oor die jare vir verskeie Ghoema- en SAMA-musiektoekennings benoem, waaronder Beste Rock-Album van die Jaar, Beste Album deur ’n Groep of Duo en Groep van die Jaar.

Die vrystelling van REËNWEER is net die begin van baie nuwe en opwindende dinge vir SAARKIE, wat verklap dat hulle gedurende hierdie stil tyd drukbesig was met die skryf van nuwe musiek, lewendige konsertopnames en vele meer. ’n Eksklusiewe reeks Saarkie-toebehore sal ook binnekort aanlyn te koop wees. “Inperking het ons baie goed behandel. Alhoewel ’n mens soms voel dat dit nou moet end kry, is dit ’n wonderlike geleentheid om jouself weer te vind en nuwe uitdagings aan te pak,” meen die trio.

Aanhangers is natuurlik baie verlig dat Adèle, Lila en Mjön weer terug is in die kollig en met REËNWEER kom bevestig hulle net weer hoekom hulle reeds sulke diep voetspore in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf getrap het. ’n Mens kan nie help om saam opgewonde te wees oor wat die Saarkies vir die toekoms beplan nie… so hou hulle dop!

Die musiekvideo vir hierdie liedjie sal ook einde Augustus 2020 uitgereik word.

REËNWEER is nou beskikbaar op alle digitale platforms hier:

Apple Music: https://music.apple.com/za/album/re%C3%ABnweer-single/1524391034

Spotify: https://open.spotify.com/track/5Yda7pbGzw5AuKuHIOukRJ?si=355hIZ6JRzS9mmkbVRsD2A

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook

Twitter

Instagram

Webblad: www.saarkie.com