Renaldo – EK IS DALK MAL

Renaldo – EK IS DALK MAL

In sy splinternuwe enkelsnit, EK IS DALK MAL, sing Renaldo oor daardie gevoel wanneer jy elke dag van voor af op iemand verlief kan raak.

“EK IS DALK MAL handel oor hoe perfek iemand in jou oë kan wees en dít kan ’n mens mal maak – natuurlik in ’n goeie manier,” het Renaldo vertel.

“In die liedjie sing ek ook dat jy dan juis elke dag mal sal wees oor dié persoon, al word mens oud en grys,” het hy bygevoeg.

Dié popliedjie is gepen deur Josh Oosthuizen en Marno Van der Merwe en word digitaal deur Coleske Artists Management versprei.

“Dit is die perfekte prentjie van hoe liefde, en ’n verhouding, moet wees,” het hy bygevoeg.

“Ek sal graag wil hê dat die luisteraar dit as inspirasie moet neem van wat die liefde behels.”

Renaldo is op dertienjarige ouderdom as Mnr. Junior Suid-Afrika gekroon en is tans ’n B.Com-student aan die Universiteit van Pretoria.

Hy het sy debuutsnit, Hoe Hoog, in 2020 vrygestel en EK IS DALK MAL is nou sy derde enkelsnit.

’n Musiekvideo vir EK IS DALK MAL word ook later vrygestel en Renaldo het verklap dat dit beslis die ideale prentjie van die liefde sal uitbeeld.

“Die hoogtepunt van my loopbaan is om elke dag nuwe mense te ontmoet. Ek herlaai deur mense om my te hê so dis beslis ’n groot voordeel,” het hy vertel.

Vir hom is dit ook belangrik om te leer en te luister na raad van diegene wat reeds langer as hy in die industrie is.

Volgens Renaldo bestaan daar net een plan vir die toekoms: musiek. “Ek wil aanhou liedjies skryf wat ’n impak kan maak,” het hy vertel.

Hy glo dat musiek baie tale kan praat en kan inspireer, motiveer en opbou en dis presies wat hy met sy musiek wil bereik.

“Ek het nog baie doelwitte met my musiek en ek droom groot oor die toekoms rondom dit.” En as mens so na hom luister, is dit nie net ’n ‘mal’ droom nie, maar een wat hy reeds besig is om aan te bou en te realiseer.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram