SA Draaiboekskrywer wen goud by Studente Oscars

SA Draaiboekskrywer wen goud by Studente Oscars

Die Suid-Afrikaner, Phumi Morare, se kortfilm – Lakutshon’ Ilanga (When the Sun Sets) – het goud gewen, in die Narratief: Binnelandse Skole-afdeling, van die 49ste jaarlikse Studente Oscars.

“Dit is ’n groot eer om ’n Studente Oscar-wenner te wees. Dit is ongelooflik inspirerend dat ’n persoonlike storie, wat op my Suid-Afrikaanse familiegeskiedenis gebaseer is, aanklank gevind het by ’n internasionale gehoor. Ek is dankbaar vir die gemeenskap wat gehelp het om hierdie film moontlik te maak, ten spyte van talle uitdagings.”

Lakutshon’ Ilanga, wat in Soweto verfilm is, vertel die storie van ’n jong swart verpleegster wat in 1985 – te midde van Apartheid – in Suid-Afrika woon. Haar grootste vrees word waar wanneer sy uitvind dat haar jonger broer (’n aktivis) in gevaar is. 

“Dit is die verhaal van ’n swart vrou se stryd om haar familie te beskerm onder die beperkings van onderdrukking,” sê Morare. “Die film is ’n eerbetoon aan my ma, aangesien dit geïnspireer is deur ’n ware gebeurtenis in haar lewe. Haar moed het my geïnspireer om die onopsigtelike heldhaftigheid van gewone Afrika-vroue te vier.”

Morare, wat tans in Los Angeles, Kalifornië woon, het hierdie kortfilm in 2019 as tesis voorgelê vir haar MFA in Rolprentregie by Chapman Universiteit, saam met ’n mede-student – Christine Cho – in die rol van vervaardiger. Sedertdien het dit talle prestasies behaal, waaronder ’n benoeming vir ’n Studente BAFTA-toekenning. Dit is ook gekies as ’n finalis in die 2021 Amerikaanse Swartrolprentfees se jaarlikse HBO-kortfilmkompetisie en is by van die wêreld se mees gesogte rolprentfeeste vertoon.

“Stage 5 Films fokus graag op loopbaanontwikkeling en dit begin dikwels op opkomende-talentvlak,” sê Marcelle du Toit, produksiehoof van Stage 5 Films en uitvoerende vervaardiger van Lakutshon’ Ilanga“Jaarliks belê Stage 5 in die vervaardiging van een kortfilm deur ’n talentvolle plaaslike rolprentmaker om kreatiwiteit in die land te bevorder. ‘Lakutshon’ Ilanga’, wat geskep is deur ’n merkwaardige span vroue soos Phumi en Christine, versinnebeeld hierdie doelwit. Phumi se aangrypende persoonlike verbintenis met die storie, asook haar ambisie en toewyding om die projek so eg as moontlik weer te gee, het ’n uitstaande eindresultaat tot gevolg gehad.” 

Stage 5 Films, wat in Kaapstad geleë is, spesialiseer in die vervaardiging van rolprente, televisiereekse en dokumentêre vir plaaslike en internasionale gehore, en maak gebruik van dekades se ervaring en ’n wêreldwye netwerk om kragtige verhale, met uitstaande tegniese vaardighede, te skep. Dié maatskappy is ook beslis nie ’n nuweling by die Oscars nie: Noem My Skollie, waarvan Stage 5 Films die mede-vervaardiger was, is gekies as Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die Oscars in 2017. Stigter, Dylan Voogt, was ook die mede-vervaardiger van Skoonheid wat in 2011 ingeskryf is vir die Oscars. 

Stage 5 Films wens Phumi Morare sukses toe met haar baie belowende loopbaan. 

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Instagram

Webblad: www.stage5films.com