Shaleen Surtie-Richards – Groter as die Karoo

Shaleen Surtie-Richards – Groter as die Karoo

Op 7 Junie 2021 het Suid-Afrika met ‘n skok gehoor dat een van ons grootste lieflinge Shaleen Surtie-Richards gesterf het in die ouderdom van 66. Oorsake oor Shaleen Surtie-Richards se dood is nog nie bekend nie.

Shaleen het groot bekendheid verwerf vir haar rol in FIELA SE KIND en EGOLI.  Haar talente was ook in talle verhoogproduksies te sien.

Shaleen Surtie-Richards

Shaleen het aan die einde van haar lewe gespog met meer as 40 toekennings insluitend die BESTE AKTRISE 1985 – FLEUR DE CAP TOEKENNINGS.

“Sy was wyer as die hele Namakwaland, groter as die hele Karoo in gees en talentvol soos ’n hele sak vol lekker tjoklits.” Dit is die woorde van Hennie Smit wat vir bykans 18 jaar teenoor haar gespeel het in die MNET Sepie, Egoli.

Alhoewel Shaleen ’n kleurryke loopbaan gehad het, was die pad nie altyd so rooskleurig nie.  Sy het nooit toegelaat dat die wêreld haar swaarkry sien nie.

Hennie Smit verduidelik dat die pad vir Shaleen nie aldag maklik was nie en dat sy, ten spyte van haar swaarkry, altyd wyd gelag het en min pyn gewys het. 

Smit vertel dat haar inkomste in die laaste dae redelik beperk was en dat die inperkings weens die pandemie dinge vererger het vir Shaleen.

Met Shaleen se afsterwe, is daar kommer by Smit of daar genoegsame fondse is om dié legende te ruste te lê.

“Ek hoop net iemand gaan bydra tot haar begrafnis, want ek weet hoe gaan dit in die bedryf, daar is nie werk nie.”

“Ten spyte van haar swaakry eer ek vandag haar nagedagtenis.”

Huldeblyke het ingestroom op sosiale media. Lenélda Labuschagne Steyn skryf (geplaas met haar vergunning):

Liefste Fiela Komoetie van die Langekloof …

Vanaand is ek seer Baas, verstaan is min en my hart is seer.

U het onse Fiela gevat Here, onse Fiela, God se kind.

Vader, vroeër die week het ek gedroom in Afrikaans Here, want ek glo die dag as U my kom haal, gaan dit in my hartstaal, Afrikaans wees … maar vandag wéét ek, tannie Nenna en onse Fiela van die Langekloof is deur onse Vader kom haal en U praat Kaaps-Afrikaans … my hart glimlag … :‘

Dankie Jirre lat ek mag wiet onse Fiela is vylag by U se voete my Meester. Dankie lat ek wiet sy is ingelaat by U’se jimmel Jirre, met die shiny Kaapse Klopse wat bly sing “Januwarie, Februwarie, Maarch, Ypril, May – onse Fiela is nou vry …”Dankie dat ek kon grootword met JOU as ikoon, as voorbeeld, as rolmodel op die verhoog en kassie – jou talent gaan my verstand te bowe, jy is geniaal, ‘n legende wat virewig sal voortleef in ons harte, op ons planke, in ons lewens …

Ek sê DANKIE Tannie Nenna, dat ek kon grootword in JOU huis … Saam jou die trash kon uitvat en die pos kon uithaal en vir Joe kwaadwas omdat hy alweer nie betyds was met sy swartsakke vir die asblik nie …Dankie dat ek FIELA virewig aan jou sal koppel … dankie dat ek saam Benjamin, mag voel of die Here jou vir ons geleen het – Dankie dat ek ook soos JOU kind kan voel vanaand, al was ek nie jouse Benjamin nie, is en sal jy altyd die “ENIGSTE Fiela wies wat ek ken …

”Rus sag by die voete van onse Jirre, MA VAN AFRIKAANS – Jou storie is voltooi, jou grondpad geloop …Virewig liewer as lief vir jou …Liefde Fiela se anner kênt.

Ons medelye gaan uit aan Shaleen Surtie-Richards en ons eer haar as een van ons geliefde ikone. Indien jy ’n skenking wil maak tot Shaleen se begrafnis, kan jy gerus ’n e-pos aan ons stuur by [email protected].