fbpx
Verona deel haar hart in nuwe liefdesballade!

Verona deel haar hart in nuwe liefdesballade!

“So ek gee jou voorwaardes. Vat my hart en bewaar dit, dan’s ʼn stukkie van my by jou. Moenie twyfel nie, doen dit gou. Dit is my voorwaardes …” sing Verona in haar nuutste enkelsnit, VOORWAARDES, vanaf haar debuutalbum. Sy het dit pas vrygestel en dit beloof om musiekharte regoor die land te laat vermurwe.

VOORWAARDES is ’n liefdesliedjie uit dié omroeper, televisieaanbieder, joernalis en realiteitsprogramster se eie pen. Dit gaan oor die reëls wat jy het vir die persoon met wie jy in ’n verhouding staan en waarby albei partye baatvind.

“Hierdie liedjie kom uit my hart uit. Ek het dit een aand geskryf vir ’n spesifieke persoon in my lewe. Hy het al vir ’n hele wyle my hart by hom en ek skryf toe vir hom ‘voorwaardes’ om hierdie hart te bewaar,” deel sy oor die enkelsnit wat sy by Muse Studios laat opneem het.

Alhoewel sy dit graag vir haar verloofde wou speel op hulle troue, moes hulle hierdie spesiale dag uitstel as gevolg van die COVID-19 pandemie. Dit kon haar egter nie keer om wel dié liedjie, wat sy spesiaal vir hom geskryf het, met die publiek te deel nie.

“Ons troue is ongelukkig al aan die begin van die grendeltydperk uitgestel. Intussen kon ons nog nie trou nie as gevolg van die grendeltydperk se regulasies,” verduidelik die kunstenaar. “Ons harte is baie seer daaroor, maar dan besef ’n mens daar is soveel groter dinge wat aan die gebeur is en dat ons so baie het om voor dankbaar te wees.”

VOORWAARDES volg in die suksesvolle voetspore van haar vorige treffers, MASKERS, STERKER en VERLOOR MYSELF IN JOU. Die snitte is baie goed ontvang op die trefferparades van verskeie radiostasies en kan nog gereeld oor die radio gehoor word.

Verder vorm dit ook deel van haar debuutalbum wat in Junie 2018 uitgereik is, net voordat sy deurgedring het na die uitkloprondtes van die realiteitsreeks, The Voice SA. Sy het die beoordelaars beïndruk het met haar hartroerende weergawe van Avril Lavigne se HEAD ABOVE WATER tydens die blinde oudisies. 

Sy beskou haar deelname aan dié reeks as een van die hoogtepunte van haar musiekloopbaan so vêr: The Voice SA was een van die beste leerskole en ervarings wat ek in my lewe gehad het. Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek sal ook die vriendskappe wat ek daar gemaak het vir ewig koester.”

Verona, wat in Meyerton woon, was vier toe haar talent ontdek is. Haar tannie sou haar by die skool kom optel en dan sou die twee uit volle bors sing op pad huis toe. Later is haar ma aangesê om haar vir sanglesse te stuur. Op 8-jarige ouderdom het Heidi Schoeman van die Ateljee van Uitvoerende Kunste haar ingeneem en het sy haar eerste liedjie by die Vereeniging Kunstefees opgevoer waarvoor sy ’n A++ gekry het.

Gedurende haar skoolloopbaan het sy gereeld aan Eisteddfods, skoolkonserte en kunstefeeste deelgeneem. Sy het ook haar Trinity Concert Certificate voltooi. Vir vier jaar was sy deel van die Suid-Gautengse Jeugkoor, CollaVocé. Sy het so ’n bietjie musiekteorie gedoen, speel klavier en kitaar, en probeer altyd nuwe uitdagings aanpak soos om die ukulele te bemeester.

Na skool het sy eers besluit om haar sangloopbaan opsy te skuif om te gaan studeer. By die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoekkampus het sy haar honneursgraad in joernalistiek voltooi. Gedurende hierdie tyd het sy die kans gekry om vir wyle die karakter, Brionay, in 7de Laan te vertolk, en was ook naaswenner van die realiteitsreeks op kykNET, Jy is my liefling.

Sy en haar goeie vriend, Llewellyn du Plessis, was ook die vervaardigers en aanbieders van die ASTV-reeks, Vir Ewig en Altyd, wat oor die troubedryf gehandel het. Vir ’n jaar lank het sy ook as omroeper by 90.6 FM Stereo, die Vaaldriehoek se plaaslike radiostasie, as mede-aanbieder van die ontbytprogram gewerk. As sy nie sing nie, is sy ook ’n knap joernalis en ’n sosialemediaspesialis.

Tans is sy, net soos baie ander, besig om van die huis af te werk om die pot aan die kook te hou. “Ek is besig met my eie besigheid, maar werk ook vir ’n tydskrif waar ek hul sosiale media beman en joernalistieke- en aanbiedingswerk doen,” gesels die musikant. “Op die stadium is dit ook moeilik om vir die onmiddellike toekoms te beplan. Alles is vreeslik deurmekaar, maar intussen probeer mens maar innoverend wees en geleenthede raaksien wat die toekoms kan beter maak.”

Die deernis en opregtheid waarmee Verona die lirieke van VOORWAARDES met haar sterk stem deur elke noot verweef, tref diep en behou die luisteraar se aandag tot aan die heel einde. Hierdie liedjie is ’n bewys van hoeveel diepte die sangeres het om te bied en gaan beslis gewild wees by spesiale geleenthede.

Die enkelsnit is aanlyn beskikbaar. Kry dit hier:  iTunes, Google Play, Deezer, Spotify

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook, Twitter, Instagram