fbpx
Gesteelde viool gevind

Gesteelde viool gevind

Danksy versekeringskema’s is dit deesdae relatief maklik om gesteelde goedere te vervang.  Dit is so maklik as om ʼn saaknommer te kry by die polisie en dan ʼn eis in te dien. 

In meeste gevalle betaal die versekering ʼn billike bedrag uit waarmee jy jou gesteelde tv, radio of selfs rekenaar kan vervang.

Foto verskaf

Maar hoe gemaak as die gesteelde item van onskatbare waarde is en nog te meer as die waarde wat jy daaraan heg nie die waarde is wat ander daaraan koppel nie?

Gerhard van der Merwe wat reeds op ʼn vroeë ouderdom begin viool speel het, vertel dat hy verlief geraak het op sy musiekonderwyser se Italiaanse viool wat dateer uit die 1800’s. 

“Ek het op baie viole al gespeel, maar toe ek die eerste keer op hierdie viool speel het ek hoendervleis uitgeslaan oor my hele lyf van die klank.  Mens kan dit net nie beskryf vir iemand anders nie.”, vertel hy.

Gerhard vertel graag hoe hy as musiekstudent altyd die viool in die oog gehad het, maar omdat dit aan sy onderwyser behoort het was sy toegang tot die besondere instrument beperk.

Dinge het wel vir Gerhard verander toe sy ouma dit vir hom as ʼn geskenk oorgekoop het in 2009.

“My onderwyser het die dag vir my gevra of ek my viool gaan uithaal – ek haal toe my viool uit en sy spot en sê: ‘Nee, nie daardie een nie – hierdie een’.  Ek kon nie glo wat ek hoor nie – dit was sekerlik een van die grootste geskenke wat ek ooit in my lewe ontvang het.”

Gerhard en sy viool se verhouding is daardie dag gebore.  Alhoewel hy reeds talle viole besit het, bly hierdie die viool wat saam met hom die wêreld deur getoer het.

Dinge verander wel vir Gerhard wat op 26 Desember 2019 die nare ontdekking maak dat boewe toegeslaan het op sy studio en hom beroof het van sy klanktoerusting en ook 6 van sy viole – waarvan sy geliefde viool ook deel was.

In sy poging om die rare viool te herwin wend hy homself na sosiale media met die hoop dat die viool sy pad terug sal vind. 

Hy maak daardie selfde dag ʼn inskrywing op Facebook op die groep “People who live in Centurion” en die plasing word wyd en syd versprei.

Verder meld hy die saak aan by die Wierdabrug polisiestasie en begin noukeurig werk saam met konstabel Lisheba.

Kort na nuwejaar ontvang Gerhard ʼn boodskap van mnr. Marcelle Moffs.  Marcelle verduidelik dat hy die vorige dag ʼn tweedehandse viool aangekoop het vir die bedrag van R 350 by ʼn pandjieswinkel in Centurion.

Hy vertel verder dat hy Gerhard se inskrywing op Facebook raakgelees het en besef het dat die viool waaroor hy tans beskik die viool is wat eintlik aan Gerhard behoort.

Sonder huiwer het mnr. Moffs kontak gemaak met Gerhard en die viool weer aan hom oorhandig.

“Ek kan nie beskryf hoe dankbaar ek is vir mnr. Moffs nie en ook vir die gemeenskap wat my storie versprei het nie.  Elkeen wat die storie gedeel het, het gehelp dat ek en my viool weer herenig is.”

Saam met die polisie van Wierdabrug en die deeglike werk van konstabel Lisheba is die res van Gerhard se goedere ook gevind by dieselfde pandjieswinkel.

Gerhard verduidelik dat hy dankbaar is vir die pandjieswinkel se deeglike prosedures wanneer dit kom by die aankoop van tweedehandse goedere. 

“Omdat die pandjieswinkel ID dokumente vereis van die verkoper, kan ons nou met redelike sekerheid die identiteit van die boewe bepaal.”

Gerhard is dankbaar dat hy sy werk as stemafrigter en musikant kan voortsit in 2020 met sy geliefde viool terug in sy besit. 

Meer oor Gerhard:

Gerhard besit en bestuur tans sy eie musiekskool in Centurion (Forté Academy of Performing Arts) waar hy 40+ aspirant en gesoute sangers en violiste onder sy leiding vorm.

Hy het reeds diep spore getrap in die musiekwêreld.  Op 14-jarige ouderdom word hy vereer met die hoogste toekenning tydens die SACOPA kompetisie.  Hy verskyn ook in talle produksies vir Barnyard waar hy as hoofsanger optree.

Besoek gerus sy Facebookblad om meer van hom as kunstenaar te lees.