fbpx
A million little pieces tans op DSTV Box Office te sien

A million little pieces tans op DSTV Box Office te sien

Niks laat die lang ure van die afsonderingstydperk so lekker verbyrol soos ’n goeie fliek nie. A MILLION LITTLE PIECES, ’n rolprentverwerking van die 2003-topverkoper met dieselfde naam – deur James Frey, kan tans op DStv Box Office gehuur word en sal kykers beslis baie stof tot nadenke gee. 

Die rolprent, waarvan die draaiboek en regie behartig is deur die bekroonde regisseur – Sam Taylor-Johnson, bied ’n realistiese beeld van hoe ’n drie-en-twintigjarige homself red van selfvernietiging gedurende sy tyd by ’n rehabilitasiesentrum in Minnesota.

Nadat James op ’n vliegtuig wakker word met gesigbeserings en geen benul van wat met hom gebeur het nie, besluit hy om na ’n rehabilitasiesentrum toe te gaan waar hy meer ontdek as detoks en terapie. Op sy reis om sy lewe, liggaam en siel te herstel, ontmoet hy ’n interessante verskeidenheid van soortgelyke gebroke siele met dieselfde doel as hy.

Alhoewel A MILLION LITTLE PIECES nie terughou wanneer dit by die harde realiteite van verslawing kom nie, gaan dit ook oor die herstelproses en vier dit ook liefde, vriendskap en hoop.

“Jy lag en huil nooit so hard en intens soos wanneer jy besig is om te rehabilteer nie,” verduidelik die regisseur en draaiboekskrywer. “Dit was belangrik om die perfekte balans te vind tussen die lig en die donker … Ek wil graag hê dat fliekgangers die prent positief moet ervaar en met hoop, eerder as wanhoop sal wegstap.” 

Aaron Taylor-Johnson, wat ook betrokke was by die skep van die draaiboek, is uitstekend in die hoofrol, en sy knap spel word aangevul deur die talent van akteurs soos Billy Bob ThorntonJuliette LewisGiovanni RibisiCharlie Hunnam en Odessa Young.

“Aaron Taylor-Johnson is beslis die beste in A MILLION LITTLE PIECES as wat hy nog ooit vantevore was. Hy is ’n man op die laagtepunt van sy lewe en die fliek skroom nie om dit te wys nie. Die kyker beleef alles saam met hom – van ’n wortelkanaal sonder verdowing tot die fisieke pyn van ontrekkingsimptome,” skryf Empire se Alex Godfrey.

A MILLION LITTLE PIECES is ’n drama vir volwassenes oor verslawing. Dit word plaaslik versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en is nou beskikbaar op DSTV Box Office.

INTERNASIONALE SKAKELS

Facebook, Instagram