fbpx
Petronel Baard stel nuwe musiekvideo bekend

Petronel Baard stel nuwe musiekvideo bekend

Die kabaretster, Petronel Baard, laat geen teleurstellings haar onderkry nie. Haar kabaretvertoning, Musiek van die Lang Vrou: Die Heelal Draai, wat inhoud van haar mees onlangse album, DIE HEELAL DRAAI, bevat, is een van die produksies wat ook gely het onder hierdie jaar se kansellasie van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) as gevolg van COVID-19. 

Hierdie vertoning van haar sou sy buiging twinting jaar na haar eerste solo-vertoning ( wat destyds musiek ingesluit het van haar album, Lank Al) by die fees kom maak het.

Maar Petronel het nie gaan stilsit nie. Sy doen gereeld aanlynkonserte en het ook pas haar nuwe webtuiste bekendgestel. Oor haar aanlynkonserte vertel sy: “Met die inperking het ons meer uitdagings omdat my span nie by my kan uitkom nie, so ek neem videos op my eie op en stel dit dan beskikbaar. Ons skep maar events en nooi mense om te kom kyk! Intussen is die 40 minute-uitsending vanaf my stoep in Reebok steeds te sien op my blad en kan mense enigtyd gaan kyk en dit geniet. Daar is al amper 25 000 kyke en ons is supertrots daarop!”

Haar webtuiste het sy meer toegangsvriendelik gemaak sodat sy haar vertonings se live streams daar kan deel. Ook sodat sy die albums van 21 jaar weer aanlyn kan beskikbaar stel, iets wat sy lankal wou doen. “Ek hou van die aanslag wat ons gebruik het en ons het weer gewerk met fotos van beide Wilhelm Vincent en Jorina Kriel. Mense kan daar sien waar ek optree, vandaan kom en waarheen ek op pad is,” vertel sy opgewonde oor haar nuwe webtuiste www.petronelbaard.com.

En nou het Petronel pas ook die afgelope Sondag, 12 April 2020, op haar verjaarsdag, haar nuutste musiekvideo vir DIE HEELAL DRAAI bekendgestel. Die musiekvideo is deur Wessel van Heerden vervaardig en baie kleurvol in volle kontras met die meer swart en wit tekstuur van die fadista wat sy deurgaans vir Die Heelal Draai-album gebruik het.

Ek het altyd gevoel ek gaan die video eers vrystel so twee jaar na die eerste oplae van die album gedruk en aanlyn beskikbaar gestel is. Selfs al was daar pogings voorheen in die rigting, was dit net nie die regte tyd nie,” vertel sy.  Invloede op die video was Roxette se Crash, Boom, Bang musiekvideo, Enya-musiekvideo’s en selfs ’n bietjie Avatar, die film noem sy ook. “Dis surreal en speel in mens se kop af. Dit beeld geen realiteit uit nie, maar net konsepte en drome soos in ons onderbewussyn,” sluit sy af.   

Kyk die video hier:       

Sy werk ook tans aan ’n nuwe projek, Seek the light, saam met Crystal Blaq Entertainment. Dit sal op Werkersdag vrygestel word. “Die liedjie gaan oor armoede en klasseverdeling. Dit spog met ’n huis-/transmusiekstyl wat iets heeltemal anders is as waaraan ek gewoond is. Gavin Jay is egter ’n uitstekende kletsrymer en die manier waarop ons stemme mekaar aanvul, maak die eindresultaat baie interessant,” vertel Petronel.

Petronel het in Villiersdorp grootgeword en was van kleins af versot op musiek. Haar ma en oom (destyds die hoof en dirigent by die Drakensberg Seunskoor) het haar lief gemaak vir koormusiek. Haar uitsonderlike solo-stem is op die ouderdom van twaalf ontdek tydens ’n skoolopvoering van Die Slapende Skoonheid en net daar het die sang- en toneelgogga haar behoorlik gebyt. Na skool het sy Drama by Stellenbosch gaan studeer en in 1998 professioneel begin optree. Aan die einde van haar Honneursjaar, het sy ATKV se Crescendo-kompetisie gewen en voltyds by die vermaaklikheidsbedryf betrokke geraak.    

Aanhangers kan saam met haar op Facebook kuier om meer uit te vind oor waarmee sy besig is, en vir inligting oor konserte en besprekings.

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Twitter, Instagram, YouTube, SoundCloud

Webblad: www.petronelbaard.com