fbpx
Raak nostalgies saam met Michael Heyns

Raak nostalgies saam met Michael Heyns

Die gewilde Afrikaanse kunstenaar Michael Heyns stel ’n nuwe enkelsnit vry. TUSSEN HIER EN DIE KAAP is die tweede enkelsnit van sy gelyknamige nuwe album.

“TUSSEN HIER EN DIE KAAP is ’n liedjie oor ’n gebroke hart, en die proses om dit te verwerk. Ons het tog al almal in die een of ander stadium ’n gebroke hart gehad!” sê Heyns.

“Toe ek die liedjie die eerste keer hoor, het ek dadelik geweet ek wil dit opneem en by my album insluit. Dit het onmiddellik tot my gespreek … en ek hoop dieselfde gebeur met jou!”

Michael Heyns is geen vreemdeling in die musiekbedryf nie. Sy agtergrond sluit in TV-werk saam met Carike Keuzenkamp in die 1980’s, en vertonings saam met groot name soos Bobby Angel. Hy het ’n loopbaan in die finansiële sektor gevolg, maar musiek was maar altyd deel van sy verhaal, so die opname van hierdie album was net ’n kwessie van tyd.

“My passie vir musiek het nooit getaan nie, en ek het kontak gemaak met die stemafrigter Amanda Luyt om my sangambisies te laat herleef. Sy het my voorgestel aan Harold Schenk, ’n bekende vervaardiger wat onder meer met Coenie de Villiers en Danie Niehaus saamgewerk het. Harold as musiekvervaardiger en Amanda as stemvervaardiger en -afrigter het my voortdurend aangemoedig.

Uiteindelik het ons met die nuwe album, TUSSEN HIER EN DIE KAAP , begin. Met hierdie projek en my sangloopbaan wil ek graag ’n nalatenskap skep van liefde vir ’n ernstiger genre Afrikaanse musiek, wat effens van die hoofstroom afwyk,” sê Michael.

Die enkelsnit TUSSEN HIER EN DIE KAAP is nou op alle digitale platforms beskikbaar.