fbpx

Aanlynkonsert van Corlea dra by tot kinderhuis se hartklop

Die immergewilde Corlea, en bekende motiveringspreker, voorkomskonsultant en ontwerper, Elzaan van der Merwe, bied op Saterdag, 8 Augustus, Hartklop van ’n Vrou, as aanlynvertoning, aan. Dié vertoning is ten bate van die Abraham Kriel Kinderhuis in Nylstroom (AKK) wat die afgelope paar maande van nasionale inperking swaar gebuk onder die finansiële implikasies moet voortbestaan.

In dié inspirerende vertoning sal Corlea en Elzaan vroueharte weer nuwe moed – en krag – gee met hul wyse woorde en empatie met die alledaagse uitdagings wat vrouwees kan bied. Een gelukkige kaartjiehouer sal ’n gratis 60 minute voorkoms konsultasie, ter waarde van ongeveer R2 500, deur Elzaan kan geniet.

“Die Abraham Kriel Kinderhuis in Nylstroom lê my baie na aan die hart en dis ook hoekom ek ingestem het om een van die beskermers te wees,” het Corlea vertel.

“Ons hoop dat met dié vertoning ons nie net ’n finansiële bydrae aan die kinderhuis kan maak nie, maar ook ons land se vroue kan bemoedig gedurende hierdie beproewende tye wat Covid-19 gebring het,” het sy bygevoeg.

Volgens Elzaan van der Merwe, ook een van dié kinderhuis se beskermers en eienaar van Mamilla Fashions, lê die emosionele welstand van kinders en vroue haar baie na aan die hart. “Dis regtig ’n voorreg om te weet dat ons met dié konsert nie net hopelik vroue se harte kan aanraak nie, maar ook die personeel en kinders by die Abraham Kriel Kinderhuis op Nylstroom sal kan bystaan,” het sy gesê.

Dié konsert is net betyds om ook Nasionale Vrouedag, op Sondag, 9 Augustus, te vier. Kaartjies vir Hartklop van ’n Vrou is vanaf 30 Julie  by iTickets beskikbaar teen R100 per toestel. Klik op hierdie skakel: https://itickets.co.za/events/448528

Gerda van der Merwe, Hoof Uitvoerende Beampte van dié kinderhuis, het gesê dat die eenheidskoste per kind R6 600 per maand beloop. Dit is die totale uitgawe van die kinderhuis gedeel deur die aantal kinders in die kinderhuis,” het sy verduidelik.

“Ons sal nie toelaat dat ons kinders swaar kry nie en daarom móét ons ander maatreëls tref om seker te maak ons oorleef- die regering se ondersteuning is ongelukkig nie voldoende nie,” het sy bygevoeg.

Die Abraham Kriel Kinderhuis Nylstroom is ’n nie-winsgewende organisasie wat 170 kinders versorg wat weens verwaarlosing en/of mishandeling uit die sorg van hul ouers verwyder is en sodoende wettiglik in die kinderhuis geplaas is. Die kinderhuis ontvang ’n staatsubsidie vir die versorging van die kinders – maar die subsidie dek slegs ongeveer 50% van die kinderhuis se begroting.

Lede van die publiek wat ook ’n skenking wil maak om ’n kind te help kan so maak deur ’n SMS te stuur. SMS die woord FONDS na 39236 (R15 bepalings en voorwaardes geld).

“Ons hoop dat met dié vertoning ons nie net ’n finansiële bydrae aan die kinderhuis kan maak nie, maar ook ons land se vroue kan bemoedig gedurende hierdie beproewende tye wat Covid-19 gebring het,” het sy bygevoeg.