fbpx
Alouise – PAAR DRAAIE

Alouise – PAAR DRAAIE

PAAR DRAAIE is ’n splinternuwe akoestiese pop-liedjie oor hoe die liedjieskrywer en sanger, Alouise, haar dae verwyl en hoe sy tyd maak om net te wees in ’n besige lewe.

Die multi-instrumentalis, Alouise Peens haar vroeër vanjaar haar eerste enkelsnit, DIS JY, as solokunstenaar uitgereik.

PAAR DRAAIE is ook uit Alouise se eie pen. Die liedjie is geïnspireer deur haar passie vir bewusmaking van geestesgesondheid en vertel hoe dit soms moeilik is om deur ʼn dag te kom, en wat sy nodig het om veral die moeilike dae makliker te maak.

“Dit is vir my lekker om rond te ry, musiek te luister en dit ook dan te doen saam met mense vir wie ek omgee en wat lewe saam my deel,” sê Alouise oor PAAR DRAAIE.

Sy het PAAR DRAAIE geskryf tydens die pandemie, in ’n tyd wat sy net uit die huis wou kom, maar nie toegelaat was nie.

“Om musiek te skryf help my om dinge te verwerk en hierdie liedjie is presies dit. Ek dink baie mense kan daarmee vereenselwig. Luisteraars kan saam met my ʼn PAAR DRAAIE ry en die melodie gaan beslis in hulle koppe vassteek.”

Die musiekvideo is in ’n pragtige Valiant motor geskiet en Alouise vertolk al die karakters wat in die motor ry. Alouise het self die video se konsep en storielyn ontwikkel.

Zander de Beer van Wintertrailpictures het die video geskiet, en Amorie Pearson is die fotograaf en grimeerkunstenaar. Anuschka Jacobs het die garderobe en stilering behartig.

“Die video vertel presies wat aangaan in die liedjie. Dit raak aan die onderwerp van geestesgesondheid,” verklap die kunstenaar.

Alouise sê sy wil hê haar musiek moet mense laat ontspan, lag, aan die dink sit en ’n rukkie laat vergeet van al die moeilike goed wat ons elke dag tee kom.

Meer oor die kunstenaar:

Alouise Peens is gebore en getoë in Bethlehem in die Vrystaat. Sy is die jongste van drie sussies.

Sy het groot geword onder haar ma se klavier en haar liefde vir musiek het beslis daar vlamgevat. Sy het as driejarige begin orrel en klavier speel en daarna het sy haar sussie se kitaar gesteel en haarself begin leer.

Sy het in 2010 saam met die orkes Onbeskaamd begin speel en daarna Pretoria toe getrek om haar droom te volg.

Alouise is reeds 13 jaar in die musiekbedryf besig. Dié Ghoema-wenner werk ook agter die skerms op produksiestelle van televisieprogramme soos Noot vir Noot, Musiek Roulette en Die Kontrak.

As multi-instrumentalis geniet Alouise dit om saam met verskillende mense musiek te maak. Sy het al saam met groot name in die bedryf gewerk en ontmoet het vir vyf jaar die baskitaar in Bok van Blerk se orkes gespeel.

Lize Beekman, Karen Zoid, Christa Steyn, Laurika Rauch en Sara Bareilles tel onder die kunstenaars wat vir Alouise inspireer.

Vir Alouise is dit belangrik om eerlik wees oor wie sy is en hoe sy klink, daarom is sy nouliks betrokke by die vervaardiging van haar musiek.

Haar inspirasie kom van allerdaagse gebeurtenisse, goed of sleg. Sy som haar stem en musiekstyl as eerlike, Afrikaanse popmusiek op en verklap dat ‘n paar Engelse snitte dalk mag volg.

Alouise het ook ‘n Ghoema-toekenning in die sakkie. Sy het die prys saam met die span van die kinderprojek Buster & Bella losgeslaan as musiekvervaardiger- en ingenieur vir dié projek.

Sy is ook ‘n musiekonderwyser en kan onder andere drom, kitaar, ukele en sanglesse aanbied.

Alouise het in Nashville, VSA, by die Blue Bird Café een van die liedjies, Small Little Spoons, wat sy vir haar sussie geskryf het gesing. Sy tel dit as een van die grootste oomblikke van haar lewe.

Die kunstenaar is passievol oor bewusmaking van geestesgesondheidsprobleme en wil help om die stigma te verbreek dat daar nie oor geestesgesondheid gepraat moet word nie.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram