fbpx
Zandri – TIEN TEEN EEN

Zandri – TIEN TEEN EEN

Zandri Botha glo dat wie nie waag nie, ook nie kan wen nie. Dit is nie net die tema van haar splinternuwe enkelsnit en musiekvideo nie, maar ook hoe sy haar musiekloopbaan benader.

TIEN TEEN EEN, wat sy saam met Emil Paul en Hugo Ludik geskryf het, is ’n voetstamplekker Afrikaanse pop-treffer wat beslis gaan koning kraai op die dansvloer.

“Die liedjie gaan oor ’n meisie wat verlief is op iemand wat sy weet haar hart gaan breek, maar sy sal eerder die kans vat as om te wonder wat kon wees,” vertel sy oor die idee agter dié snit wat deur Muse Studios vervaardig is. “Ek glo dit gaan by ’n wye gehoor aanklank vind en dat luisteraars dit saam met my sal geniet.”

’n Musiekvideo, wat die lirieke van die lied perfek komplementeer, is ook nou beskikbaar en sy is baie opgewonde om die eindproduk met die publiek te deel.

Wintertrail Pictures, Anton Ras Photography en Frikkie van Biljon was almal betrokke by die produksie van die projek, wat op verskillende plekke in Pretoria verfilm is.

“Ek het die opname baie geniet en dit is vir my vreeslik spesiaal, omdat dit my heel eerste musiekvideo is,” sê sy.

TIEN TEEN EEN is dié talentvolle matrikulant se tweede vrystelling en volg in die voetspore van Skildery, waarvan sy onlangs ook ’n dansweergawe (remix) uitgereik het wat baie goed ontvang is en ’n Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaartoekenning verwerf het vir Beste EDM/ dansliedjie deur ’n vroulike kunstenaar.

Zandri, wat in Pretoria-Noord woon en skoolgaan, is al van jongs af passievol oor musiek. Sy het in die laerskool reeds begin sing en kitaarspeel en kry tans sanglesse by Jolanda Becker se gesogte musiekskool.

Sy beskryf haarself as ’n ekstrovert met ’n groot belangstelling in somatologie en daarom wil sy graag na matriek by ISA Carstens Academy gaan studeer.

Die musikant vind inspirasie in liedjies wat met haar hart praat en luister graag na pop, country en geestelike musiek. Kunstenaars soos Riana Nel en Lauren Daigle het ’n groot invloed gehad op haar eie styl en sy sal graag nog eendag saam met Danie Reënwolf (van Spoegwolf) en Kirsten Richard (van Droomsindroom) wou werk.

In die kort tydjie wat sy al in die musiekbedryf betrokke is, het sy geleer dat harde werk en deursettingsvermoë die sleutelbestanddele om sukses te bereik en sy pas dit ook toe in haar studies en persoonlike lewe.

Alhoewel sy nog groot planne en drome het vir die toekoms, fokus sy nou eers daarop om skool klaar te maak, haar bestuurslisensie te kry en ’n sukses te maak van haar tweede enkelsnit.

TIEN TEEN EEN is ’n opgewekte liedjie, met ’n aansteeklike wysie en lekker lirieke, wat jou uitnooi om jouself te geniet en die lente op ’n vrolike noot af te skop.

Die snit is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms:

Apple Music: http://itunes.apple.com/album/id1703577073?ls=1&app=itunes

Youtube Music: https://music.youtube.com/watch?v=vn-Lvm8X8-s

SOSIALEMEDIASKAKELS:

Facebook, Instagram