fbpx
Alternatiewe Afrikaanse Rock Band – Kontras

Alternatiewe Afrikaanse Rock Band – Kontras

Afrikaanse musiek – hier kom ’n ding! Maak jou reg vir die alternatiewe, Afrikaanse rockgroep, Kontras, want jy gaan dit nodig hê!

Wat maak jy as jy vier volbloed-Afrikaanse jongmanne het wat ’n egte band voel met Suid-Afrika en Afrikaans spesifiek, maar nie tevrede is met die status quo nie?

En nie net hoe sake staan met Afrikaanse musiek nie, maar ook ons uitkyk op die lewe generasie na generasie?

Kontras is reg om jou opinies op die proef te stel – of jy nou met hulle saamstem of nie.

Met ’n enkelsnit wat gaan maak dat jy jou eie lewe bevraagteken en wonder of dit wat jy geglo het reg is, hoop Kontras dat hul dalk net deel van die laastes mag wees wat “kan push om Afrikaans van ’n dooie perd wat uitmekaar uit val en verouderd is terug by die water te kry om bietjie te kan drink“.

So hoe het dit gebeur dat hierdie duidelik uitgesproke, talentvolle manne van Kontras met hul sterk opinies ’n groep begin het?

Die groep se hoofsanger, Jacques Groenewald, vertel: “’n Paar van ons het saam geswot en gewoon. Ons het almal mekaar (die res van Kontras) een aand in ’n kroeg ontmoet en begin gesels oor wat ons van plaaslike, Afrikaanse musiek op daardie stadium gedink het – ’n generasie wat met die kanaal MK groot geword het.

Ons het almal sterk daaroor gevoel dat dit ’n skande is dat Afrikaanse jongmense nie meer aan alternatiewe musiek blootgestel word nie. So in plaas daarvan om net te sit en te moan, het ons besluit om iets daaraan te doen.

Toe ons uiteindelik tevrede was met ons werk en dat ons verdien om na geluister te word, het ons ons musiek begin opneem en ’n musiekvideo gemaak om die bal aan die rol te kry.

Ons het Kontras amptelik in Desember verlede jaar bekendgestel met drie enkelsnitte en ’n musiekvideo.

Louwrens Labuschange, Kontras se baskitaarspeler, verduidelik hoekom hul juis dié naam vir hul groep gekies het: “Ons almal is ’n kontras. Ons haat die dinge wat ons self die meeste doen. Verder maak ons band ook musiek oor ’n verskeidenheid van genres wat self kontrasterend is. En dan boonop lewe ons inderdaad in baie kontrasterende tye ook nog. Daar kan nie ’n beter naam vir ons en als waarvoor ons staan wees nie.”

Kontras het sopas hul enkelsnit, MIDDELKLAS MIDDELMAN, bekendgestel – die laaste beskrywing wat mens aan die groeplede sal toeken. Dromspeler Daniël Botha verskaf ’n bietjie insig hieroor: “Wat beteken dit om ’n middelklas middelman te wees? Is dit om in die voetspore van jou vader of moeder te volg en deel te vorm van die breë veralgemening wat so akkuraat is dat dit ons seer maak?

Ons almal word groot met die belofte om nie dieselfde foute as ons ouers te maak nie. Maar dan gaan trap ons wragtig gereeld in dieselfde lokvalle wanneer ons ook moet begin om grootmens ‘te speel’.

Almal moet maar self luister en dalk beteken dit iets heeltemal anders vir hulle. Dit is juis wat musiek so flippen legit maak!

Met hul unieke talent wat inderdaad in kontras is met so baie Afrikaanse musiek, is dit duidelik dat Kontras se invloede strek vanaf punk, pop-punk, alternatiewe musiek en nog meer. ’n Groep wat vir seker met geen andere vergelyk kan word nie!

Middelklas Middelman, asook meer musiek van Kontras se onlangse twee EP vrystellings (Side A en Side B), is nou beskikbaar op alle gewilde digitale musiekplatforms.

Besoek ook gerus www.kontrasband.com.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui