Nostalgiese nuwe treffer uit Ampie se pen

Nostalgiese nuwe treffer uit Ampie se pen

Ampie het meer as ’n vakansie gekry tydens sy onlangse besoek aan Namibië. In die duine tussen die Skedelkus en die Kunene rivier het hy die woorde vir sy nuwe vrystelling gevind.

NAMIB WOESTYN vertel ’n mooi verhaal oor Namibië en die landskap wat die lied geïnspireer het.

Die nostalgiese lirieke sal luisteraars meesleur op Ampie se reis langs die Atlantiese oseaan, verby Windhoek en Swakopmund, langs Hentiesbaai en die Skedelkus tot by Puros en Palmwag. Dit is ’n lekker saamsingtreffer met ’n country-pop-toon wat ideaal is vir ’n padlangse reis.

Soos Ampie sing, tower dit prentjies in jou kop op en bly die woorde nog lank by jou nadat die laaste noot reeds weggesterf het.

Sy nie-kommersiële styl is altyd eerlik. In sy nuutste vertel weereens ’n storie met kenmerkende diepte.

Daar word eersdaags ’n musiekvideo vir NAMIB WOESTYN vrygestel met foto’s wat tydens die reis geneem is. Die video word vervaardig deur Christiaan Wolf.

Behalwe vir die musiekvideo, beplan Ampie ’n paar nuwe liedjies en vertonings op plekke waar hy min of selfs nog nooit vantevore was nie.

Ampie het nog altyd daaroor gehou om sy eie musiek te skryf, te sing en op te neem. Sy besondere talent lê juis in sy veelsydigheid met die pen en stem wat hy reeds voltyds die afgelope 15 jaar uitleef.

Hy vind sy inspirasie uit enige goeie musiek, maar veral uit countrymusiek en in besonder Keith Urban se klanke. Dinge van die lewe en waar hy hom tans in sy eie lewe bevind, dien as verdere inspirasie.

Hy beskryf die hoogtepunt van sy loopbaan as die voorreg wat hy gehad het om Joost van der Westhuizen in ’n video te kon betrek.

As kind was Joost Ampie se hero. Sy toekomsdrome is om saam met Francois van Coke, Heuwels en Dewald Wasserfall te werk.

Tydens sy loopbaan het hy reeds verskeie uitdagings oorkom, soos sy verhoogvrees en om te leer om aan homself te glo.

Dié suksesvolle kunstenaar was al onder andere benoem vir ’n SAMA vir kontemporêre album van die jaar saam met Bok van Blerk, Elvis Blue, Jak de Priester en Andriette. Sy beskeie raad is om nie jou “betalende” daaglikse werk prys te gee nie en om hare op jou tande te hê.

Ondanks sy sukses in die musiekindustrie, bly Ampie bou aan sy loopbaan as finansiële adviseur en studeer hy tans nagraads verder.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram

Leave a Reply