ANDER MENS verskuif grense – nuwe genre vir Afrikaanse films verras

ANDER MENS verskuif grense – nuwe genre vir Afrikaanse films verras

Die première van die nuutste Quentin Krog film, ANDER MENS, is op 7 Augustus by Ster Kinekor in Cedar Square, Fourways gehou. Tydens die glansgeleentheid, wat deur verskeie bekendes bygewoon is, het die meeste hul opgewondenheid uitgespreek oor die rolverdeling, aksietonele en genre van die film – ‘n eerste vir die Afrikaanse-filmbedryf.

Ander Mens

Krog het veral bekendheid as regisseur verwerf vir sy vorige suksesvolle films (Ballade vir ’n Enkeling en Vir die Voëls). Met ANDER MENS begewe hy hom op ‘n nuwe gebied vir Afrikaanse films, ‘n genre wat geklassifiseer kan word as ‘n aksieriller met ‘n sterk streep donker humor.

Alhoewel die teks gebaseer is op die bekroonde skrywer Zirk van den Berg se topverkoperroman, was die storielyn, formaat en tydsduur verwerk om by ‘n rolprent te pas.

Verskeie gesoute akteurs snoer kragte saam met talentvolle nuwe generasie akteurs wat reeds in verskeie rolle te sien was in Afrikaanse TV-reekse en films.

Die rolverdeling was onverbeterlik, die aksietonele geloofwaardig en die humor tydig. Die kombinasie van Frank Opperman, James Borthwick en Bennie Fourie behoort al reeds ‘n aanduiding te gee van die film se spontane humor wat te wagte kan wees om die spanningsvolle oomblikke onverwags te breek. Maar net soos met die genre van die film, moet kykers nie in die strik van stereotipering trap nie …

ANDER MENS vertel die spanningsvolle verhaal van ‘n doodgewone en baie vervelige boekhouer, Daniël Niemand wat oortuigend deur Bennie Fourie (Vuil WasgoedMooirivier, Hotel) in die hoofrol vertolk word.

Daniël is ‘n bleeksiel wat sy hele lewe lank deur die mense rondom hom geboelie word, insluitend sy ma, vertolk deur Jana Cilliers. Sy eentonige, voorspelbare bestaan verander egter gou in ‘n nagmerrie wanneer ‘n konfrontasie met sy huweliksberader (Tim Theron) skeefloop. Alles spin daarna totaal buite beheer as sy skelm werkgewer en misdaadbaas, Frank Redelinghuys (Frank Opperman) en sy broer Hansie (André Weideman), hom help om die gemors skoon te maak met die polisieman Johannes Ackermann (James Borthwick) op hul spoor.

Die fliek word aangebied vanuit die perspektief van Luitenant Erica Kruger van die getuiebeskermingsprogram in die Kaap, gespeel deur Marlee van der Merwe (Getroud met Rugby) wat ‘n baie realisteise beeld skep van die praktiese agent wat nie nonsens van misdadigers vat nie. Marlee het hard saam met ‘n opgeleide choreograaf gewerk om haar vegtonele realisties te vertolk, iets waarin sy met lof slaag.

Die film bied ‘n ernstige blik op realistiese uitdagings waarin Jan Alleman hom maklik kan bevind. Maar vir Daniël lei ‘n reeks misverstande daartoe dat sy lewe onherroeplik verander en sy bestaan heeltemal omgekeer word met onomkeerbare implikasies.

Tussen die bloed en konsternasie deur word die kyker gekonfronteer met baie stereotipes, maar besef teen die end saam met Daniël dat ‘n “Niemand” kan ontwikkel in ‘n “Iemand” wat kan opstaan vir homself.

Ander sterre soos André Weideman, Lika Berning, Clyde Berning, Neels van Jaarsveld, Laudo Liebenberg is ook in die fliek te sien.

Die film begin amptelik op 23 Augustus in teaters landswyd draai.

Die fliek is vervaardig deur Marche Media (Die SeemeeuKanarie) in samewerking met kykNET Films, M-Net Movies en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) en word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk.

Met tonele van geweld en naaktheid, is die film nie geskik vir die hele gesin nie. Dit beloof om jou naels kort te hou en jou lagspiere te laat werk.

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Twitter, Instagram

One thought on “ANDER MENS verskuif grense – nuwe genre vir Afrikaanse films verras

Leave a Reply