Neil Nachtrein – Op plekke waar ons eens was

Neil Nachtrein – Op plekke waar ons eens was

Neil is ‘n sanger en liedjieskrywer uit die hartjie van die Vrystaat. Elkeen het sy eie storie waar hy begin het, maar Neil s’n was regtig aan die onderste sport van die leer na sukses.

Hy het in 2003 begin deur open mic aande in Londen te hou. In 2006 begin hy sy eie musiek skryf en keer hy terug na sy vaderland waar hy eers plaaslik in Bloemfontein optree waar ook al daar ‘n geleentheid is. In 2012 reik hy sy eerste album, Gisters & Blisters uit en begin hy optree as lid van Blomtrein (saam met sy sangmaat, Jan Blohm).

Na drie jaar van Blomtrein ry, besluit Neil om op ‘n ander stasie af te klim en sy eie trein se stoom aan te vuur. Die grootste deel van sy vertonings is oorspronklike, alternatiewe Afrikaanse musiek, maar hy kan ook ‘rock & blues covers’ behoorlik ‘rock’.

Sy verhoogpersoonlikheid is gesellig, lig en komies. Maar tussen woorde en stiltes, word hy intiem met elkeen in die gehoor. Jy voel asof jy hom persoonlik ken wanneer jy daar uitstap.

Sy nuwe album is volgeprop met oorspronklike musiek en wanneer jy na die titels kyk, kan die jy jou nuuskierigheid nie inhou om dadelik te begin luister nie. Titels soos Pelgrim, Stilste uur (wat besig is om ‘n groot treffer te word), Op plekke waar ons eens was, 1998 en Rivier.

Dis alles temas, woorde en ervaringe uit Neil se pen wat jou tot diep in hierdie man se siel sal laat kyk. Hy trek jou in, of jy dit wil voel of nie. Jy word deel van Neil Nachtrein …

Hy glo persoonlik daar moet ‘n gevoel van jouself in jou musiek wees. Al skryf jy ‘narrative’ oor iets anders of iemand anders of wat jy gesien of ervaar het, moet daar ‘n stukkie van jouself uitgetrek word om dit te kan voel en weer te gee.

In sy eie woorde sê hy: “Ek dink daar’s ‘n verskil tussen invloede en inspirasie. Dit wat ons luister en dit wat ons lees – dis als invloede. Inspirasie kom uit die werklikheid uit. Partykeer is dit net iemand wat jy sien sit by homself of ‘n paartjie wat saam onder ‘n sambreeltjie stap.

Luister na Neil en jou hart gaan die chant hoor en jy gaan wil saamreis na nuwe bestemmings. Nuwe stasies. Selfs al is dit na binne. Neil Nachtrein is dié nuwe naam op almal se lippe wat van so bietjie meer alternatiewe musiek hou. Hou vas aan jou hart; Neil gaan jou saamvat op ‘n reis.

Volg vir Neil Nachtrein op sosialemedia:

Facebook, Instagram

Leave a Reply