fbpx
Via se splinternuwe realiteitsreeks, Ster-Status, nou op die kassie!

Via se splinternuwe realiteitsreeks, Ster-Status, nou op die kassie!

Vanjaar kan VIA-kykers Vrouemaand behoorlik vier met Apprentesses SA se splinternuwe realiteitsprogram, STER-STATUS, wat elke Maandagaand om 18:00 op kanaal 147 te sien is.

Volgens Tarien Cronjé, stigterslid en uitvoerende direkteur van Apprentesses SA wat reeds sedert 2014 vroue bemagtig, is die doel van hierdie reeks om jong meisies ’n geleentheid te bied om hulle kolligdrome te bewaarheid. Kykers word deel gemaak van die opwindende pad wat elke deelnemer stap.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring om die program te reël en betrokke te wees by elke meisie se reis. Vir my was dit ’n groot voorreg om te sien hoe hulle groei, ontwikkel en nuwe hoogtes bereik,” meen Cronjé.

Hierdie realiteitskompetisie gaan daarop fokus om jong vroue (millenniërs) aan die vermaaklikheidsbedryf bekend te stel deur middel van werkswinkels, opleidingsessies en verskeie uitdagings om hulle voor te berei op ’n lewe in die kollig. Na elke fase van die kompetisie sal van die deelnemers, wat nie die mas opgekom het nie, uitgeskakel word. Alhoewel daar net een wenner kan wees, sal elke deelnemer voordeel trek uit hierdie ervaring, juis omdat hulle op verskeie sosiale platforms blootstelling sal kry, gaan leer hoe om hulleself behoorlik te stileer, verhoudings gaan bou met kenners in die bedryf, ’n verskil kan maak met liefdadigheidswerk en ook die geleentheid sal hê om as handelsmerkverteenwoordigers op te tree.

Luré Delport, verlede jaar se wenner, sal die eerste amptelike aanbieder van STER-STATUS wees, onder leiding van die gewilde akteur David Konrad (Binnelanders, Getroud met Rugby), waarna 2019 se wenner by haar die leisels sal oorneem.

“Wat die program lekker en uniek maak, is die transformasie wat die deelnemers en aanbieder van die program ondergaan. Ons volg ook Luré, wat geen vorige ervaring het nie, se reis as 2018 se wenner en haar eerste geleentheid as aanbieder in die bedryf,” verklap Tarien. “Daar is wel ’n bietjie onverwagse hartseer wat al in die eerste episode deurkom, maar ook daardie opregte oomblikke van trane, lekker lag en ondersteuning, is vasgevang in die program.”

Verskeie bekendes, waaronder Sinki Mlambo, Leandie du Randt, Deon Groot, Francois Olivier, David Konrad, Amorie Pearson en Pamela Niemand, en uitgesoekte besighede gaan almal deel wees van die program en talle organisasies, soos CHOC, Kosmos Care Centre en Gracia, sal baat by die liefdadigheidsaspek daarvan.

Oor die geleentheid om betrokke te wees by hierdie inisiatief, sê David Konrad: “My droom is om ander te help om hulle drome waar te maak en STER-STATUS het my die platform gegee om dit uit te leef!”

Die program sal in ses episodes aangebied word en die wenner en naaswenners sal – in ware BBP-styl – op 10 Augustus 2019 tydens die spoggerige glansgeleentheid by Atterbury Theatre in Pretoria aangekondig word.

Kaartjies vir die STER-STATUS FINAAL is aan die publiek beskikbaar op iTickets en wissel tussen R160 en R250 per persoon. Verrigtinge op die rooitapyt sal om 18:00 afskop en sluit, buiten vir die kroningsgeleentheid, ook lewendige vermaak deur bekende kunstenaars in. STER-STATUS bevat al die regte inspirerende en kompeterende bestanddele vir ’n realiteitsprogram wat iemand se lewe vir altyd gaan verander. Die vraag is nou net … wie s’n gaan dit wees? Skakel in om te sien wat gebeur!

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook, Instagram
www.apprentesses.co.za

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui