fbpx
Judith Kea – selfstandig, onafhanklik en doelgerig

Judith Kea – selfstandig, onafhanklik en doelgerig

Judith Kea is ‘n solokunstenaar, selfstandige sangeres en liedjieskrywer. Sy beskryf haar musiek as Afrikaanse sokkie met ‘n “twist”, beslis ‘n raak beskrywing.

Judith het as kind baie heen-en-weer saam met haar gesin getrek, vanaf Johannesburg na George en daarna na Nelspruit. Dit het haar heelwat geleer van verskillende lewenstyle en mense.

Dié rondtrek het in haar ‘n liefde laat ontwikkel vir avontuur, kultuur en die ontdekking van nuwe plekke. Sy kom miskien so bietjie van orals af, maar sy is standvastig op pad vorentoe met haar oë gerig na Bo.

Dié talentvolle meisie het nie toevallig in die musiekbedryf opgeëindig nie. Sy het op die jong ouderdom van slegs 4 jaar, “toe die liggies aangaan”, begin sing en haar eie liedjies opgemaak.

Sy vertel dit het net gebeur die dag toe sy bewus geword het van haarself as ‘n lewende wese. Sy het nooit getwyfel in haar roeping, of dat sy ‘n sangeres sou word nie. “Jy weet wat jy weet, wat jy weet jy weet! Ek is gebore ‘n kunstenaar,” skerts die dame wat reeds skouers geskuur het met Kurt Daren, Gerhard Steyn en Die Campbells met die Supersokkie-album.

Vir Judith se debuutalbum het sy getrou gebly aan haar boeremeisie, veelsydige self. Haar eerste klanke kan beskryf word as ‘n mengelmoeskardoes, musiek geleen uit boeremusiek, country, kwaito en een Rock ‘n Roll lied.

Dit klink miskien soos ‘n deurmekaarspul, maar dit loop té lekker op die dansvloer met heerlike heupswaairitmes en ‘n paar ernstige ballades tussen in. Judith is tans besig om aan haar tweede album te werk. Hierdie keer kan haar aanhangers ‘n meer volwasse album verwag, maar steeds propvol oorspronklike Afrikaanse musiek. Die bekende digter Mitz Malan het haar genader om een van sy gedigte te toonset en op te neem, iets waarna aanhangers kan uitsien op die nuwe album.

Rubi is ‘n Fender bokskitaar wat soms optree saam met Judith, alhoewel dit nog vroeë dae is vir die duo. Judith beplan om binnekort danse reg oor Gauteng en die noorde van die land te hou om fondse in te samel om haar volgende album te finansier, asook ‘n reeks Tribute shows.

Judith se musiek is beskikbaar op iTunes, Deezer en soortgelyke platvorms. Twee van haar musiekvideo’s speel tans op KykNet en die res is te sien op haar YouTube kanaal.

https://open.spotify.com/album/5ESDsEda94Huho1MNPdszr?si=k6pLR4PwTRi8qyM-2o4emA

Sterk vroue van die 80’s, soos Tina Turner, Annie Lennox, Joan Jett, Stevie Nicks, Cher en Alannnah Myles, om ‘n paar te noem, inspireer vir Judith. Sy geniet ook die Afrikaanse klanke van Elandré, Jan Blohm, Jossie Fields, en Laurika Rauch.

Tog kom haar grootse dryfkrag vanuit haar geloof: “Loop hand aan hand met ons ABBA Vader. Net deur geloof, hoop, harde werk, uithouvermoë en jou oë gerig op jou uiteindelike doelwit, sal jy jou loopbaan uitkerf en jou plek inneem as ‘n gerespekteerde kunstenaar.

“Wees oorspronklik, wees jouself, net jy kan ‘jy’ so goed doen en wees soos jy.”

Besprekings:  [email protected] / 0716855079 / kom in kontak met my op my Facebook.

Sosiale Media

Facebook, YouTube, Twitter

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui