fbpx
André Schwartz – IN DIE SKADU’S VAN ENGELE

André Schwartz – IN DIE SKADU’S VAN ENGELE

IN DIE SKADU’S VAN ENGELE is ‘n dankbaarheidsreis saam met André Schwartz waar liefde die voortou neem, genade die roetewyser is en die vlerke van Engele die skadu verskaf. Hierdie reis van liefde en teruggee het sy oorsprong gehad om ‘n braaivleisvuur waar ‘n vriend van André genoem het dit is tyd vir ‘n kersalbum asook ‘n nuwe Kersfeeslied.

Die lied, Ek Wens Vir Jou ‘n Kersfees, is gebore en daar word besluit om ‘n konsertreis te onderneem na Namibië en gratis vertonings in Windhoek en Swakopmund te hou om terug te gee. Die konserte was in die opelug en ‘n besonderse ervaring vir almal teenwoordig. Elke persoon wat die konsert bygewoon het, moes ‘n geskenk bring vir ‘n kind.

“Die aantal geskenke en kwaliteit daarvan het my sprakeloos gelaat” sê André, “eintlik in trane”.
Hierdie letterlik kombivragte vol geskenke is uitgedeel by kinderhuise en hospitale. “My emosies het my gereeld oorweldig wanneer ek dink aan die voorreg om vir hierdie beeldskone kinders ‘n geskenk te kan gee. Van een hand na die ander. Alles net liefde en seëninge,” vertel Schwartz.

Die program vat jou saam op reis deur Namibië en sluit ook in-diepte gesprekke met André oor sy pad met Covid, MND, sy liefde vir diere, vriende en oumense in. Ons kuier saam met André op sy plaas en beleef sy Ma, sy diere, sy vriende, sy gees en sy wyshede. Hierdie program is ‘n mylpaal in my lewe – ek voel uiters bevoorreg dat ek die kans gegun is om so ‘n program te kon maak”.

Die musiekvideo van sy dankbaarheidslied, Ek Haal Asem, wat hy onlangs bekendgestel het verskyn ook in die dokumentêr. Die Ek Haal Asem musiekvideo het ten doel om die universele boodskap van die belangrikheid van asemhaal te midde van ‘n pandemie uit te beeld. Natuurlik is hierdie vanselfsprekend – aanvaarde geskenk essensieël vir alle lewe.

Die video begin met André wat onderwater is: sonder asem. Hy breek die oppervlak en ons is dadelik in ‘n wêreld waar lug, suurstof en asem leef. ‘n 14-meter hoë stallasie en 250-meter lap is gebruik om die woorde: Ek Haal Asem te verkondig in vyf verskillende tale : Afrikaans, Engels, Chinees, Nederlands, Sotho en Frans.

Die musiekvideo is geskiet en vervaardig deur Christian Wolf van Brickwolf Creatives. Die woorde is in André se eie handskrif geskryf en d.m.v reuse patrone op die lap geverf deur onder andere André self. “Wanneer ek na die video kyk, glimlag ek, want Ek Haal Asem” – André Schwartz.

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram