fbpx
Kyle September – ANALOG HEART

Kyle September – ANALOG HEART

Die sanger en liedjieskrywer, Kyle September, wat verlede jaar groot sukses op die radio behaal het met sy debuut-enkelsnit – SWEETNESS, het pas die tweede liedjie, ANALOG HEART, uit sy eie pen aan die publiek vrygestel.

ANALOG HEART is ’n opgewekte popliedjie wat vir hom, persoonlik, baie beteken. Dié snit is geskryf terwyl hy op toer was in Botswana. “’n Duo met die naam, Match, was deel van die toer. Hulle klank het ANALOG HEART geïnspireer,” verduidelik hy. Die titel bring egter hulde aan David Cook, die wenner van American Idol in 2008, se debuut-album.

“Sedert sy deelname aan die kompetisie, is ek ’n groot aanhanger van sy musiek en het toe ontdek dat hy voor ‘Idols’ reeds ’n album bekendgestel het. Ek was mal daaroor en was verstom oor wat die titel metafories vir my beteken het. Jare later, het dit die perfekte titel geword vir die liedjie wat ek oor myself wou skryf.” 

ANALOG HEART is vir Kyle ’n baie persoonlike liedjie en hy erken dat hy sukkel om sy emosies uit te druk in ’n ander taal as musiek.

“Die liedjie gaan oor my. Dit verduidelik hoe ek dink en funksioneer en is ’n erkenning dat ek soms moeilik is om te verstaan. Ek kan baie pragmaties wees en is baie goed daarmee om emosie uit ’n situasie te haal om die probleem doeltreffend op te los. Die waarheid is, dat ek net so emosioneel is soos die volgende ou. Ek krop net my emosies op. Omdat ek wou hê dat mense moet aanklank vind, het ek dit verpak in die formaat van ’n oulike liefdesliedjie.”

Die sanger glo dat alhoewel dit baie persoonlik is, mense daarvan sal hou omdat dit ’n lekkerluister-wysie en oulike woorde het. “Alhoewel dit lekker is om mee saam te sing, dink ek tog dat luisteraars die dieper betekenis agter die liedjie sal waardeer,” voeg hy by.

ANALOG HEART volg in die voetspore van sy goedvoel-somerkreet, Sweetness, wat in Desember 2020 uitgereik is. “Die reaksie op ‘Sweetness’ het my verwagtinge oortref,” sê hy. “Ek wou ’n opgewekte treffer vir die somer skep en is baie bly om te hoor dat die publiek dit so ervaar het!”

Die kunstenaar is tans besig om aan ’n musiekvideo vir sy nuutste treffer te werk, maar wil nog nie te veel daaroor verklap nie.  

Kyle is reeds vir meer as tien jaar in die musiekbedryf doenig en was al versot op musiek vir solank as wat hy kan onthou. “My pa het vir my kitaar gespeel en gesing terwyl my ma swanger was. Hy het my geleer kitaarspeel toe ek twaalf was en kort daarna het ek begin liedjies skryf en sing.” As tiener, was Kyle deel van die kerk se jeugmusiekgroep. Dit het, volgens die kunstenaar, ’n groot impak op hom gehad en was een van die belangrikste fases van sy musiekloopbaan.

Kyle het verder ook die baskitaar, dromme en klavier bemeester voordat hy ingeskryf het by die Wits School of Arts, waar hy in 2016 sy honneursgraad in BMus behaal het.

Hy sonder sy optrede by Afriski, ’n openingsvertoning vir Francois van Coke by die Misty Waters-fees, en om saam met Graeme Watkins ’n aanlynvertoning te hou gedurende grendeltyd as van die grootste hoogtepunte van sy loopbaan sover.

Alhoewel hy vier-en-twintig-uur per dag aan musiek dink, geniet die musikant ook sport en is hy al sedert 2009 ’n deeltydse afrigter. Verder is hy ook besig met twee aktiewe korporatiewe musiekgroepprojekte, Mash’d Potatoes en Mobile Music Machine, wat hom baie besig hou. Ten spyte van sy besige skedule, is Kyle tans ook besig om aan sy derde enkelsnit te werk, asook aan sy debuut-album wat hy vroeg volgende jaar wil vrystel.

Net soos Sweetness, sal ANALOG HEART aanklank vind by luisteraars van alle ouderdomme, danksy die unieke manier waarop Kyle dit regkry om goedvoel pop-elemente met sy besonderse stem te kombineer. 

SOSIALE MEDIA

Facebook, Instagram

LEES MEER

Kyle September stel musiekvideo vry vir, SWEETNESS!