fbpx
Angelique – Wye Wêreld

Angelique – Wye Wêreld

Hierdie vroue maand hou Angelique Greffrath, ‘n spiksplinternuwe toevoeging tot die Afrikaanse musiek bedryf, die Eva’s se naam hoog met n enkelsnit wat elke vrou diep sal aanraak – WYE WÊRELD. WYE WÊRELD is ‘n pop-ballade wat haar heserige Bonnie Tyler-stem soos ‘n satyn handskoen pas. “Ek is met ‘n heserige stem gebore,” spot die sangeres.

Angelique Greffrath

Die liedjie handel oor verlore liefde, ‘n sprokiesland waarna almal opsoek is, ontmoediging en dan eintlik ook vrede en aanvaarding dat ‘n vrou ook haar geluksplekkie in die wye wêreld kan vind.

Laasgenoemde word emosioneel verwoord wanneer sy sing: “…wens ek was jou engel, wens ek was jou traan; Wens ek kon die fyner kunsies van die lewe meer verstaan.”

Angelique was deel van ‘n Johannesburgse rockgroep, Tradisie Masjien, wat sestien jaar gelede verhoë aan die brand gerock het. Wye Wêreld is gedurende daardie musiekfase van haar lewe gebore. Dié liedjie was ‘n gesamenlike pennevrug van haar en Johan Meyer, die groep se kitaarspeler en agtergrondsanger. Johan het die oorspronklike lirieke as n duet geskryf, en Angelique het dit onlangs verwerk in n solo lied.

“Die liedjie is in daardie stadium uit wanhoop en terleurleustelling gebore,” vertel Angelique. “n Liefdesverhaal wat net nie in ‘n sprokiesverhaal wou verander nie.  Die liedjie was ‘n wegholtreffer, maar die hartseer oor die verlore liefde het net te groot begin raak. Ek het later besluit om die groep te verlaat.”

WYE WÊRELD val net so lekker op die oor soos ‘n Kit Kat-stafie na ‘n harde dag se arbeid. Angelique het die liedjie gedurende die eerste paar weke van die grendeltydperk weer afgestof, herverpak en professioneel deur Arnold de Wet van Sweep Sound Productions laat opneem.  

Gedurende die inperkingstydperk het ek besluit om weer my passie en my drome om musiek te maak en te sing te laat herleef. Die lied is en was nog altyd na aan my hart, deel van my mens wees, deel van my groei,” verklap die meisie oor waarom sy besluit het om die liedjie as haar eerste enkelsnit vry te stel.

Angelique het, nadat sy Tradisie Masjien verlaat het, aan verskeie sang- en talentkompetisies deelgeneem, maar het vir ‘n wyle haar sangloopbaan op sy geskuif om op ma-wees en die sakewêreld te fokus.

Sy is egter nie onbekend met die vermaakwêreld nie.  Dié mooi blondekop was net n jaar oud toe sy haar televisiedebuut gemaak het. “Ek het in ‘n Steri-Nappi-advertensie verskyn,” vertel sy. Die baba was net té oulik vir woorde en dit was nie lank nie of sy het in nog ‘n paar televisie- en tydskrifadvertensies verskyn.

 “My passie vir musiek het deur die jare net sterker geword, en dit is my hartsbegeerte om vir musiekliefhebbers te wys waartoe ek (en my stem) in staat is.”

Die sanger Hugo, wat in die vroeë 2000’s bekendheid verwerf het vir Deur die Straights was een van dié wat haar talent herken en raakgesien het. “Ek het met Hugo via sosiale media kontak gemaak en voorgestel dat ons Deur die Straights as n duet opneem wanneer die inperktyd iets van die verlede is, maar ek gaan nie nou veel meer daaroor weggee nie.”

Die vrystelling van WYE WÊRELD is net die begin van baie nuwe en opwindende dinge vir Angelique en verklap ook dat sy gedurende hierdie stil tyd druk besig was om aktief aan haar droom te werk. Elke dag wat verby gaan, word die behoefte om te sing en nuwe musiek te skep net groter, iets wat net eenvouding nie langer op sy kon skuif  nie. “Drome het gelukkig nie n verval datum nie, en daar is nie ‘n beter tyd as nou nie,” sê sy.

SOSIALE MEDIA:

Facebook