fbpx
BZN Grand Finale ‘n hoogtepunt

BZN Grand Finale ‘n hoogtepunt

Band Zonder Naam het op 13 Oktober tydens hulle grand finale die verhoog vaarwel geroep. “Dankie, dankie, dankie Zuid-Afrika,” was bykans al woorde wat die emosionele Jan na afloop van die vertoning kon uitkry. Jan, wat vroeër sy aftrede aangekondig het, het ook met die toer se laaste optrede sy loopbaan op ‘n hoogtepunt afgesluit.

Jan Keizer en Anny Schilder het die laaste 40 jaar harte regoor die wêreld, insluitende dié van Suid-Afrika, verower met hulle musiek. Die tweemanskap is albei deel van die oorspronlike groep. BZN is die enigste groep wat vir meer as 26 agtereenvolgende jare (1973 to 1998) enkelsnittreffers op die Top 40 gehad het.

Verskeie plaaslike kunstenaars het die gehoor tydens die voorskou reeds in die regte luim vir die grand finale gekry. Ruan Josh, Franja du Plessis en Juanita du Plessis het bekoor met hul talent en unieke klank waarvoor dié familie gekenmerk word.

Christo en Cobus het die gehoor laat saamsing met bekende country-klanke en Manie Jackson het sy nuutste treffer vir die eerste maal laat hoor. Ten laaste het Nádine betower met die klanke van Celine Dion se grooste treffers en afgesluit met haar eie Skildery.

BZN se energieke optrede het nie één treffer oorgesien wat hulle oor die jare beroemdheid laat verwerf het nie. Die gehoor was meegesleur in nostalgie en emosie wat die BZN-pad gekenmerk het. Die duo het ook ‘n hele paar herinneringe gedeel en saam oor hul eerste ervaring van “beroemdheid” gelag.

Hul passie en liefde vir musiek was tot en met die heel laaste noot sigbaar en het die gehoor op hul voete gehad. Onder luide toejuiging en handeklap het Jan en Anny finaal gebuig en het die gehoor gegroet.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui