fbpx
Emil Paul BEGIN OOR met sy debuutalbum

Emil Paul BEGIN OOR met sy debuutalbum

Emil Paul het bekendheid verwerf toe hy vroeër vanjaar ‘n plek los gesing het in Francois van Coke se span tydens die derde seisoen van die plaaslike realiteitsprogram The Voice

Dié jongman het nie op hom laat wag nie en dis met groot opgewondenheid dat hy sy debuutalbum hierdie maand vrystel, BEGIN NET OOR.  Die album is ‘n versameling met iets vir almal; van dansliedjies tot poptreffers en selfs ‘n paar ballades.

Die album was vir Emil ‘n doen-dit-self projek. Hy het 11 uit die 12 liedjies op die album self geskryf en 8 daarvan het hy self vervaardig. “Só kon ek seker maak dat niks dieselfde klink nie, en dat daar ‘n groot verskeidenheid is om na te luister, sonder dat die luisteraar verveeld raak,” sê Emil.

Hy skryf graag vanuit sy eie lewenservarings. Dit is verder vir hom belangrik om liedjies te skryf waarvan die melodie lekker op die oor val, maar met ‘n dieper boodskap in die lirieke.

Ek wou ook meer konsentreer op wat ék dink mense moet hoor, en wat ek self sou wou hoor, in plaas van om te fokus op wat ek dink die mark wil hoor,” sê hy. Emil glo dat luisteraars die egtheid, wie hy is, in die album sal kan hoor.

Emil is tans besig met beplanning aan ‘n vrystellingstoer, maar hy is ook besig om homself in die musiekbedryf te vestig as ‘n vervaardiger en liedjieskrywer, ook vir ander kunstenaars. Emil erken hy is nog baie jonk in die industrie en het nog baie om te leer, maar hy is bereid om hard te werk.

Hy het in ‘n musikale huis grootgeword in Pietermaritsburg, KwaZulu Natal, waarna hy na Pretoria verhuis het om sy musiekloopbaan na te volg.

Hy het een belangrike les geleer die afgelope jaar: “Jy moet jou oë op jou eie werk en pad hou. ‘n Mens word te maklik beïnvloed deur ander se stories en opinies, maar eintlik is almal op hulle eie, unieke pad. Dit het my ook geleer dat hoe meer selfstandig jy kan wees, hoe meer sal jy daaruit baat.”

BEGIN NET OOR is beskikbaar by Emil se optredes. Die album kan ook afgelaai word vanaf iTunes, Google Play & JOOX.

Plectrum se Zander de Beer het agter die skerms gaan inloer tydens Emil se vrystelling.

SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook, Twitter, Instagram

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui